Jenny-Lee en Patrick Brown van Vredenburg bedank almal wat hulle ondersteun het.


“All battles are won through prayer.”

Verlede September – toe Patrick Brown (40) tydens ’n besoek aan ’n neuroloog uitgevind het hy het ’n niersiekte – het hy en sy familie nie besef watter invloed dit op hul lewe sou hê nie.

Só vertel Patrick se vrou, Jenny-Lee.

“Binne ’n kwessie van vyf maande het sy nierfunksie drasties verswak tot 12% en het hy die nuus ontvang dat hy onmiddellik met dialise sal moet begin, min wetend watter groot invloed en aanpassing dit vir hom, ons as gesin en sy werksomstandighede sou wees.”

Een van Patrick se groot liefdes was buite wees en hengel, braai en tussen mense wees, maar sy siekte het veroorsaak dat hy drie dae per week vir vier ure dialise moes ontvang. Jenny-Lee vertel haar man is moeg en gefrustreerd gelaat ná sy behandeling en almal moes gewoond raak aan die nuwe dag-tot-dag.

Sy meen die gesin het “verby mekaar begin leef”, omdat behandeling so baie tyd en energie geverg het.

Ten spyte van die uitdaging van sy siekte het Patrick se kollegas van Motolek en die gemeenskap ingespring om te help waar hulle kan. Geld is ingesamel om met die mediese onkoste te help.

“Motolek Vredenburg, Patrick se werkgewer vir die afgelope 20 jaar, het van dag een af nie een oomblik gehuiwer om Patrick se hand te vat en ons by te staan en geweldig te ondersteun nie,” verduidelik Jenny-Lee.

Sy sê haar man het geleidelik swakker geword en ná sy diagnose moes die Browns hoor Patrick se beste opsie is om ’n nieroorplanting te ondergaan. Volgens die Suid-Afrikaanse Oorplantingsvereniging is daar sowat 2 000 Suid-Afrikaners wat wag vir ’n nuwe nier. Deel van die proses om vir pasiënte ’n nier te kry, is om hul naasbestaandes te toets en te bepaal of hulle moontlik ’n nier kan skenk. Patrick se suster Claudine Thiart het toe met die uitmergelende proses begin om te kyk of sy ’n skenker is.

Intussen het Patrick met hoë bloeddruk gesukkel. Dit was eers ná vele toetse en ’n buiksonar dat die neuroloog laat weet het Patrick het ’n aggressiewe gewas op een van sy niere. “Dis iets wat baie seldsaam is. Die wind was uit ons seile. Die gevolgtrekking was dat dit die gewas was wat die hoë bloeddruk veroorsaak het. Hy is dadelik opgeneem en die dokter wou die nier verwyder. Dit was ’n moeilike tyd,” bieg Jenny-Lee.

Patrick se nier is verwyder en met byna 10 dae in die hospitaal en ses weke se herstel moes die nieroorplanting uitgestel word. Sy nier het teen daardie tyd tot 7% funksionaliteit verswak.

“As ek terugkyk na die afgelope jaar moet [ek] erken dit was moeilik om in te staan as pa en ma vir ons twee seuns. Ek weet die Here het my daagliks die krag gegee,” vertel sy.

Claudine en Patrick is op 7 November albei na die Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad vir die oorplanting.

“Die emosies het hoog geloop, maar ons was dankbaar die dag het aangebreek en ons het ons vertroue volkome in die Here geplaas. Die operasies vir Claudine en Patrick het suksesvol afgeloop en ons is Claudine ewig dankbaar vir die groot geskenk wat sy aan Patrick gegee het,” vertel Jenny-Lee.

Claudine, wat met haar gesin in Worcester woon, is gesê die kans dat haar broer haar nier sou verwerp was 0,1%.

“Ek sal dinge vir ’n maand moet rustig vat en sal nie dan kan bestuur nie, maar ek sal kan voortgaan met my lewe. Die hele proses het my laat besef hoe belangrik dit is om na my gesondheid om te sien. Ek het drie kinders – 19, 16 en agt jaar oud – en as ouer dink jy ook aan die belangrikheid om vir hulle daar te wees,” het Claudine voor die operasie aan Weslander gesê.

Nou herstel Patrick goed. Die hele ervaring het sy gemoed en ingesteldheid verander en hy het tot ’n besef gekom. “ ’n Mens het baie tyd in die hospitaal om te dink, en jy besef dat materiële dinge, mag en status, niks is nie,” meen Patrick.

Die Browns sê hulle wil ander vroue en mans asook huisgesinne aanmoedig om hoop te behou. Hulle sê hoewel ’n mens langs die pad moeg raak, moet jy positief bly.

“Uit elke swaarkry kom daar nuwe lesse, nuwe treë en nuwe hoop!”

Hulle bedank almal vir hul omgee, gebede en ondersteuning in hierdie tyd.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article