Sassa-begunstiges gaan selfs nóg meer geduld aan die dag moet lê.
Dit in ’n neutedop is Sharna Fernandez, die Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling se boodskaap aan Sassa-begunstigdes ná sy onlangs ’n vergadering met die nasionale minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu en lede van die uitvoerende raad (Minmec) bygewoon het.
Dit is nie noodwendig goeie nuus vir diegene wat van maatskaplike toelae afhanklik is nie, want hulle leef al vir jare met groot frustrasie saam.
Oor die provinsie heen kla begunstigdes oor die “swak diens” wat hulle glo ontvang en die geweldige lang rye by die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) se kantore en aanlyn-portaal.
Die Weskus is geen uitsondering nie. Weslander ontvang gereeld klagtes van begunstigdes wat al moedeloos is oor die situasie by plaaslike Sassa-kantore.
By die vergadering met Zulu wat op 24 Januarie plaasgevind het, het Fernandez verwag om antwoorde te kry oor kwessies wat Sassa lam lê.
“Dit lyk egter of ek en miljoene Sassa-begunstigdes langer sal moet wag vir antwoorde en aksie,” het sy in ’n persverklaring op 25 Januarie bevestig.
Hoewel Zulu by die vergadering erken het Sassa se probleme verg dringende aandag, het sy gesê sy is ontevrede met inligting wat deur Sassa aan haar verskaf is, en sy het besluit om die entiteit nog tyd gee om voor te berei sodat behoorlike terugvoer by ’n volgende vergadering voorgelê kan word.
Volgens Fernandez se verklaring verwelkom sy Zulu se verbintenis tot ’n alleenstaande verbintenis met Sassa, maar sv voel dit moet baie dringend gebeur.
Sy sê miljoene mense in die Wes-Kaap ervaar elke dag onnodige swaarkry en sy sal uitgesproke wees oor hierdie probleme omdat daar nie toegelaat kan word dat die provinsie se kwesbaarste mense wag op antwoorde of in die steek gelaat word nie.
“Ek sal Minister Zulu hou by haar verbintenis om ’n vergadering met Sassa te belê. Dit moet binnekort gebeur, aangesien die miljoene toelae-begunstigdes oor die land heen en die Wes-Kaap-provinsie nie meer so kan leef nie,” het Fernandez benadruk.
Weslander het die afgelope drie jaar herhaaldelik berig oor reuse-uitdagings by Sassa-kantore en Weskussers se moedeloosheid oor die situasie.




