Die Weskus kom “lig” daarvan af, as gekyk word na die ingrypende en gewelddadige gevolge van die voortslepende taxi-staking in die Kaap. Die impak wat dit egter op die plaaslike ekonomie gaan hê weens inwoners wat nie vervoer gehad het om by die werk te kom en ’n verskeidenheid van verbruikersprodukte wat weens die staking nie in die Weskus kon uitkom nie, sal wel in die toekoms blyk.
Die staking is die gevolg van ’n wetstoepassingsgeskil tussen Wes-Kaapse minibustaxi-operateurs onder die vaandel van die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) en die Stad Kaapstad. Dit het om 15:00 Donderdag 3 Augustus begin en Santaco het aangedui dat hulle tot Donderdag 10 Augustus gaan staak.
Santaco beweer dat die Stad Kaapstad minibustaxibestuurders onregverdig teiken deur hul voertuie vir padveiligheidsoortredings te skut, en eis dat alle geskutte minibustaxi’s teruggegee word sonder dat enige boetes betaalbaar is.
In een van enkele voorvalle van geweld in die Weskus gedurende die staking het ’n groep misdadigers Dinsdagoggend 8 Augustus motoriste se voertuie op die Weskuspad (R27) met klippe bestook.
In ’n video waarin die stukkende voorruit van ’n bakkie gesien kan word, sê die eienaar dat hy die oggend op die R27 onderweg was van Langebaan na Velddrif toe die bakkie deur klipgooiers getakel is. Die misdadigers het almal klapmusse gedra. Hy sê ook in die video dat die wit Isuzu-bakkie nie nommerplate gehad het nie en dat hy met die breek van die ruit amper van die pad af gery het. Teen druktyd kon die identiteit van die slagoffer nog nie vasgestel word nie.
Kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het gesê Weskus-blitspatrollie het na die Isuzu-bakkie gaan soek, maar hulle kon dit nie opspoor nie.
Sy kon nie bevestig dat dié voorval met die taxi-staking verband hou nie, maar het wel gesê dat die polisie die staking-situasie fyn dophou en dat die Weskus redelik stil is . . . behalwe vir ’n aspirant- Bonny en Clyde-paartjie wat moontlik van die situasie wou misbruik maak. Hulle het Vrydag in die vroeë oggendure een slagoffer beroof en probeer om ’n tweede een te oorrompel.
Die vermeende rowers, Xolewa Choli (32) en Sanele Sidumo (21), het ’n man in Diazweg met ’n vuurwapen van sy selfoon beroof. Die paartjie was nog besig met hul tweede slagoffer toe polisiebeamptes van Saldanha die misdadige aktiwiteit opgemerk het. Die rowers het van die toneel probeer vlug, maar Choli is in hegtenis geneem.
Binne minute is Sidumo by sy huis in White City opgespoor, waar hy sy volle samewerking gegee het. Hy is gevra waar die gesteelde selfone is, waarop hy ’n Bybel met twee gesteelde selfone aan die polisiebeamptes oorhandig het. Hy het ook, ná nog ’n paar minute, ’n musiekboks bo-op ’n TV-stel uitgewys. Die vuurwapen, wat toe al die tyd ’n speelgoed-replika was, was daarin versteek. Hulle verskyn vandeesweek in die Vredenburg-landdroshof.
. Die Saldanhabaai-munisipaliteit het Dinsdag verklaar dat orde nog heers in die munisipale gebied met geen gewelddadige taxi-verwante voorvalle nie. “Wetstoepassingsagentskappe bly waaksaam en is in alle dorpe in SBM ontplooi om die situasie te monitor en om die veiligheid van ons gemeenskappe te verseker.”
Inwoners word aangeraai om in die geval van geweld of intimidasie die SBM-beheerkamer by 022 701 6834 te bel.



