Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy versprei- dingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, ‘n distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie.

’n Saak van strafbare manslag word in Porterville ondersoek nadat Dawid Estruis (36) Sondagaand (30 November) omstreeks 20:25 doodgery is. Hy het klaarblyklik voor ‘n aankomende voertuig op die Porterville-Saronpad (R44) ingeloop.

Sibalele Makhanda van Moorreesburg het Sondagoggend 30 November omstreeks 11:15 op die N7 tussen Moorreesburg en Malmesbury beheer oor sy voertuig verloor. Sy voertuig het van die brug af gery en hy is op slag dood. Twee passasiers het ernstige beserings opgedoen.

In Saldanha is ‘n 45-jarige man Saterdag (29 November) om 01:50 in Biskopstraat, Diazville, in die gesig en rug geskiet.

 ‘n 30-jarige vrou se kêrel het glo Sondag (30 November) omstreeks 01:30 skote in haar en haar ma se rigting in Abdolstraat, Saldanha, afgevuur. Niemand is in die voorval beseer nie. Die Saldanha-polisie ondersoek klagtes van poging tot moord.

Damian Davids (20) het Maandag (1 Desember) in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklag van poging tot moord nadat hy Saterdag om 04:00 vyf skote op ‘n 17-jarige tienerseun afgevuur het. Die 17-jarige slagoffer is in albei bene gewond.

Altesaam 84 skape ter waarde van R200 000 is tussen Vrydagaand en Saterdagoggend op ‘n plaas in die Malmesbury-omgewig gesteel.

Die polisie het Saterdag (29 November)omstreeks 12:20 op ‘n klagte van iemand wat op die hoek van Disastraat en Cimbiduimlaan, Darling, met ‘n mes gesteek is, gereageer. Die polisie het op die bebloede Petrus Adam (49) afgekom. Hy is weens ernstige wonde na die Tygerberg-hospitaal geneem. Adam het die volgende dag aan sy wonde beswyk. Austin Fortuin (26) het Maandag in die Malmesbury-landdroshof op ‘n aanklag van moord verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article