Twee onbekende mans het ’n 40-jarige Zimbabwiese burger Saterdagoggend 17 Februarie om 07:40 in sy motor op pad werk toe op die hoek van Murraystraat en Diazweg met vuurwapens gedreig. Hulle het handskoene gedra en die klaer beveel om die voertuig oop te sluit. Die verdagtes het in die voertuig geklim en hom beveel om op die grondpad na Jacobsbaai te ry. Op die grondpad het hulle die klaer beveel om stil te hou, waarop ’n wit Isuzu-bakkie wat agterna gery het, ook stilgehou het. Een van die rowers het sy vuurwapen aan die bestuurder van die Isuzu-bakkie gegee. Hy het ’n glasbottel gebreek en die klaer daarmee gedreig en beveel om sy gereedskap op die Isuzu-bakkie te laai. Die rowers is met verskeie stukke gereedskap en die klaer se selfoon vort.

’n Klagte van brandstigting word in Porterville ondersoek nadat die inhoud van ?’n hospitaalkamer in die Lapa Munnik-hospitaal Sondagmiddag 18 Februarie om 13:05 aan die brand gesteek is. Volgens ooggetuies het ’n vrou, wie se kind in die hospitaal behandel word, uit die spesifieke kamer gekom en oomblikke daarna was die bed, matras, gordyne en suurstofkoord in vlamme. Niemand is in verband met die voorval aangekeer nie.

Een van ’n groep seuns wat op Valentynsdag, 14 Februarie, voor ’n skool in Saldanha baklei het, het met die polisie se aankoms ’n vuurwapen in ’n vullisdrom gegooi. Die kinders het almal weggehardloop, waarop die polisie op die vuurwapen beslag gelê het. Dit is gestuur vir vingerafdruktoetse. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

’n Lutzville-bul het die 59-jarige Graciano Farirepi Locheim, ’n Zimbabwiese burger, Donderdagoggend 15 Februarie omstreeks 07:50 aangeval omdat die man glo die bul in ’n kamp wou jaag en hom met ’n stok geslaan het. Die man is aan veelvuldige beserings dood. Die polisie ondersoek die saak.

’n Man van 46 het Saterdagaand in sy hokkie in Bashestraat, Middelpos, doodgebrand. Die oorsaak van die brand word ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article