 ‘n 36-jarige man van Vredenburg het mediese behandeling ontvang nadat hy Saterdag (14 Junie) om 00:30 in Rooihalsstraat geskiet is. Die man is later in Tinkerstraat gekry met twee skietwonde in die rug en nek. Die polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord.

 ‘n 25-jarige man van Louwville, Vredenburg, sterk steeds in die Groote Schuur-hospitaal aan nadat hy iewers gedurende die naweek erge kopwonde opgedoen het. Die omstandighede rakende die poging tot moord word ondersoek.

 ‘n Fetus van ongeveer twee maande is Donder-

dagoggend 12 Junie by die watersuiweringsaanleg in Vredenburg gevind. Die polisie ondersoek die saak.

 ‘n Ondersoek is begin nadat die liggaam van ‘n onbekende man, wat reeds begin ontbind het, Donderdagmiddag 12 Junie op ‘n plaas in die Malmesbury-omgewing gekry is.

 Nathan Horst (33) het Dinsdag 17 Junie in die Clanwilliam-landdroshof op aanklag van diefstal verskyn. Horst het na bewering oor ‘n tydperk sowat R4 500 se goedere, onder meer ook die battery van ‘n 51-jarige klaer van Clanwilliam se voertuig, gesteel. Die klaer het hom daaroor gekonfronteer, waarop Horst die klaer R350 gevra om die battery “terug te koop”.

 Lydia Valentyn (34) het op Dinsdag 17 Junie in die Porterville-landdroshof verskyn omdat sy na bewering haar 91-jarige ouma op Vrydagmiddag 13 Junie aange-

rand het. Die polisie ondersoek ‘n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

 Janus Titus (31) wou na bewering Vrydagaand

(13 Junie) ‘n klub in Porterville binnegaan, maar is glo weens sy misdaadrekord voorgekeer. Hy het ‘n draai geloop en teruggekeer en ‘n 37-jarige man met ‘n baksteen teen die kop gegooi. Hy het Dinsdag (17 Junie) in die Porterville-landdroshof verskyn.

 Tussen Donderdagaand 12 Junie en Vrydagoggend 13 Junie is 35 skape by ‘n plaas in die Malmesbury-omgewing gesteel.

 Twee sakkies tik en vyf rondes ammunisie is Saterdagoggend (14 Junie) om 00:15 in Gouritsstraat, Vredenburg, in die 51-jarige Clement Phillips se besit gevind. Hy het Dinsdag in die Vredenburg-landdros- hof op aanklag van die onwettige besig van dwelms en ammunisie verskyn.

 Twee skote is Saterdagaand op ‘n huis in Mountain View, Malmesbury, afgevuur. Niemand is in die voorval getref nie. Net ‘n glasdeur is beskadig.

 Weslander gee weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in die verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article