Nadat Laingville ’n dramatiese daling in die misdaadsyfer ondervind het vanweë die buurtwag wat einde verlede jaar die strate begin patrolleer het, het Steenberg’s Cove ook nou sy eie buurtwag gekry.
“Die Steenberg’s Cove-buurtwag is slegs drie weke aan die gang, en ons sien ook alreeds ’n daling in misdaad,” het die gemeenskapsleier en raadslid Thyrone Williams van die Saldanhabaai-munisipaliteit verduidelik.
Volgens Williams is die Steenberg’s Cove-buurtwag in St. Helenabaai begin kort ná die geslagsgeweld-voorval van 5 Februarie waarin ’n vrou van die Cove na bewering deur haar kêrel aangerand en verkrag is.
Die Laingville-buurtwag is in November verlede jaar begin nadat skelms toenemend snags amok gemaak het wanneer daar beurtkrag in St. Helenabaai is.
Die Laingville- en Steenberg’s Cove-buurtwagte reik onderskeidelik na hul gemeenskappe uit vir ondersteuning.
Volgens Williams het die buurtwagte passievolle vrywilligers nodig om deel te word van ’n effektiewe span wat die polisie bystaan om misdaad in St. Helenabaai hok te slaan.
Vir meer inligting, of om deel van een van die twee buurtwagte te word, bel Eddie van Steenberg’s Cove by 066 130 1373 of Winston van Laingville by 078 954 4618.



