Verskeie mans het die afgelope naweek in afsonderlike voorvalle in die vroeë oggendure veelvuldige beserings in messteek- en skietvoorvalle opgedoen en een is selfs dood:

. Jonathan Linnerts (21) is Saterdagaand met ’n mes in die bors gesteek omdat hy blykbaar ’n 17-jarige seun van George Kerridge se sigaret wou gehad het. Die beskuldigde het glo geweier, waarop Linnerts toe na bewering ’n mes uitgehaal en na die beskuldigde gesteek het. Hy is met dié einste mes in die bors gesteek, waarna hy van die toneel af weggeloop het. Hy is Sondagoggend vroeg in die hospitaal oorlede. Die beskuldigde is Maandag aangekeer vir die moord en het Dinsdag in die Vredenburg-landdroshof op aanklag van moord verskyn.. ’n 25-jarige slagoffer het Sondagoggend om 03:39 veelvuldige meswonde in ’n bakleiery by ’n kuierplek in Vredenburg opgedoen. Sy aanvaller is nog nie aangekeer nie.

’n Bietjie later, omstreeks 05:30, het die polisie ’n berig ontvang van ’n 24-jarige man wat in Tsitsiratsitsi, Vredenburg, met ’n mes gesteek en met veelvuldige meswonde reeds na die Vredenburg-staatshospitaal vervoer is.

Volgens ’n 19-jarige klaer het hy en sy vriend om 09:30 van ’n Vredenburgse kuierplek af gekom en ná ’n onderonsie in die straat met ander mans, is die klaer met ’n spies in die kop en ribbes gesteek. Die klaer het mediese behandeling ontvang. Twee verdagtes, Dumisani Bovane (41) en Sebongiseni Mondi (45), is in hegtenis geneem en het Dinsdag 7 November in die landdroshof verskyn.. ’n 29-jarige man is Vrydagaand omstreeks 22:30 in Laaiplek gewond toe vier mans hom met ’n vuurwapen en pangas aangeval het. Twee skote is na die klaer gevuur en hy is in die linker-bobeen gewond. Die verdagtes is steeds op vrye voet.. In Citrusdal het ’n 44-jarige man ook Vrydagaand ’n saak van poging tot moord aangemeld nadat ’n onbekende man omstreeks 22:25 in Tulipstraat op hom geskiet het. Hy is rakelings gemis.

Twee sake van strafbare manslag word ná die naweek ondersoek:. Die Darling-polisie ondersoek ’n strafbaremanslagsaak nadat Sammy Downing (35) van Bellville Saterdagmiddag om 16:30 vermoedelik beheer oor sy voertuig op die Weskuspad (R27) verloor het – volgens sy familie op sosiale media vermoedelik ná ’n hartaanval. Hy is op die toneel dood. Die presiese oorsaak van die ongeluk word steeds ondersoek.. Die Clanwilliam-polisie het Sondag om 22:00 ’n verslag ontvang dat ’n ambulans ’n man, Arno Heyns (46), op die Graafwaterpad (R364) omgery het. Met die polisie se aankoms op die toneel was Heyns reeds dood, maar die betrokke ambulansbestuurder het op die toneel gewaak. ’n Klag van strafbare manslag word ondersoek.

Nog misdaadvoorvalle:. Die sogenaamde vriend van ’n 19-jarige man van Doringbaai het hom Saterdagaand geskop en geslaan omdat hy nie vir hom skyfies wou steel nie. ’n Klagte van aanranding word ondersoek.. Wilburn Boois (28) van Graafwater is in hegtenis geneem nadat hy na bewering tussen Saterdag en Sondag by ’n huis in Leipoldtville ingebreek en onder meer ’n rooi handsak en R860 gesteel het. Boois het Dinsdag in die Clanwilliam-landdroshof verskyn.. Twee vermeende inbrekers, Siphenathi Hehlake (33) en Zwophetheya Mulamula (27), is Sondagoggend op die toneel aangekeer waar hulle glo by Laaiplek Spar ingebreek het. Hulle het Dinsdag in die landdroshof op die dorp verskyn.. Iemand het die afgelope naweek by die St Helenabaai-kliniek ingebreek en die lugversorger, ’n venster en koperpype is gesteel. In dieselfde tyd is ook by ’n kwekery in Vanrhynsdorp ingebreek en nagenoeg R20 000 se goedere is gesteel. Tussen Saterdag en Sondag is ook by die Laerskool Cederberg in Clanwilliam ingebreek en verskeie goedere is uit die klaskamers gesteel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article