• Devenice Engelbrecht (24) is Saterdagmiddag in Moorreesburg aangekla van die moord op Jasmien Smit (35). Engelbrecht het Smit na bewering in die rug gesteek. Smit het met haar aankoms by die hospitaal aan haar wond beswyk. Die twee van hulle het glo oor ‘n selfoon gestry. Engelbrecht het Dinsdag 29 April in die Moorreesburg-
landdroshof verskyn.
• Fernando Thomas (32) het Sondagaand op Riebeek-Wes aan sy wonde beswyk nadat sy aanvallers hom met ‘n mes in die rug gesteek het. Hy is op die toneel in Tulpstraat dood. Die polisie ondersoek ‘n saak van moord.
• ‘n 28-jarige man het ‘n kuierplek in Porterville op Sondag 20 April om 01:00 ná ‘n rusie met sy kind se ma verlaat. Terwyl hy weggery het, het ‘n groep mans klippe na sy voertuig gegooi. Hy het stilgehou en uitgeklim om die skade aan sy voertuig te bekyk. Toe die mans hom oorval en begin skop en slaan, het hy sy motor se domkrag gebruik om homself te probeer beskerm. Hy het later in die hospitaal wakker geword. Die Porterville-polisie ondersoek ‘n klagte van poging tot moord.
• Die lewelose liggaam van die 30-jarige Vuyolwethu Phakamisa is Sondagoggend om 03:00 in Riverview, Citrusdal, met ‘n meswond in die bors gekry. Die polisie ondersoek die omstandighede van sy moord.
• Die Malmesbury-polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag nadat André D’Argent die afgelope Saterdag (26 April) in ‘n motorbotsing op die N7 dood is. Twee voertuie was in die botsing en D’Argent is op die toneel dood.
• Die Malmesbury-polisie ondersoek verskeie sake van poging tot moord:
– ‘n Sestienjarige seun is Saterdag (26 April) omstreeks 22:30 in Saamstaan, Malmesbury, geskiet. Hy het mediese behandeling ontvang.
– ‘n 40-jarige man is Sondag (27 April) omstreeks 01:45 in sy linkerbeen geskiet, waarna hy mediese behandeling moes kry.
– ‘n 25-jarige man is Maandag (28 April)
omstreeks 19:15 in Swawelstraat, Malmesbury, twee keer in die rug geskiet.
• Die Darling-polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag nadat die 21-jarige Kay-Bee Voetpad Saterdag (26 April) om 07:49 op die Weskuspad (R27) omgery is. Sy is op die toneel dood.


