September is Toerisme- en Erfenismaand en die maand is met groot feestelikhede begin.
As deel van die amptelike afskop van Toerismemaand was Lindiwe Sisulu, minister van toerisme, in die Weskus.
Sisulu, Bossie Strydom, burgemeester van die distriksmunisipaliteit, en vele ander hooggeplaastes het Sondag !Khwa ttu op die R27-pad besoek. In haar toespraak het sy die belangrikheid van toerisme as ’n ekonomiese dryfveer beklemtoon. “Ons moedig Suid-Afrikaners aan om binnelands te reis om ’n beter begrip te kry van die bekostigbare, opwindende en wêreldklas-besienswaardighede wat op hul eie drumpel beskikbaar is. Dit dien ook as ’n geleentheid om binnelandse toerisme te bevorder en ’n kultuur van reis onder Suid-Afrikaners te skep,” het Sisulu by die geleentheid gesê.
Die tema van vanjaar se Wêreldtoerismedag is “Rethinking Tourism”. Sisulu meen hierdie tema is gepas in die lig van die sektor se herstel na die impak van die Covid-19-pandemie.
Volgens Wesgro se toerisme-oorsig, uitgereik in Julie, het die Wes-Kaap die top-5-hoogste jaar-tot-jaar-groeikoers in Julie 2022 aangeteken met trekpleisters soos Robbeneiland, die Kango-grotte, Tafelberg Nasionale Park, Boulders, Viljoensdrift-riviervaart en Tafelberg-sweefspoor.
Die Weskus staan egter nie terug vir dié bekende toerisme-besienswaardighede nie met die blommeseisoen nou in volle swang.
By die geleentheid was dit nie net die Khoi-San-erfenis wat ten toon gestel is nie. Weskus Skool se rieldansers het met vlugtige voete die gaste vermaak.
Sisulu het Suid-Afrikaners aangemoedig om hul ryk erfenis te vier deur die vele plaaslike toeristetrekpleisters in hul streek vandeesmaand te besoek. “Kom ons herleef daardie gees van avontuur en begin daardie drome wat ons almal het, uitleef – jy sal iets wonderliks ??ontdek – wat ek kan waarborg!” het sy aangespoor.




