Die omgewingsimpakverslag en die omgewingsbestuursprogram dui aan dat toerusting soos dié meganiese siftingsmasjien in die prospektering gebruik gaan word.Foto: EnviroAfrica


Die omgewingsbewaringsgroep Protect the West Coast (PTWC) doen ? dringende beroep op omgewingsbewustes om beswaar aan te teken teen nóg ? reuse-mynprospekteeraansoek op die Weskus. Die ongerepte kus langs die Weskus is reeds swaar belas met ? stortvloed van prospekteeraansoeke en bestaande mynboubedrywighede.

Besware en kommentare teen die nuutste aansoek, dié van die Fish by the Sea-maatskappy wat op grootmaat vir alluviale diamante wil prospekteer, moet vóór Maandag 22 Julie ingehandig word.

Alluviale diamante lê op die kuslyn waarheen hulle miljoene jare gelede deur erosie verplaas is.

Die voorgestelde prospekteerterrein is sowat 55 km noordwes van Koekenaap en sowat 50 km suidwes van Nuwerus op die Plase Rietfontein en Graauw Duinen by Vanrhynsdorp geleë. Die prospekteerbedrywighede sal oor 18 hektaar van die ongeveer 121 ha plaasvind.

Weslander het op 4 Julie berig oor nóg ’n prospekteeraansoek (“‘Groentjie’ wil hier kom prospekteer”) waarin Nurulos, ’n Gautengse maatskappy, aandui dat hulle vyf jaar lank vir ’n lywige lys minerale en diamante in ’n sensitiewe deel van die Weskus wil prospekteer. Die tyd vir besware teen dié aansoek het reeds gesluit.

PTWC, die waghond vir die Weskus teen ondeurdagte mynbedrywighede, doen ? beroep op omgewingsbewustes en ander belanghebbende en geaffekteerde partye om te registreer om Fish by the Sea se aansoek teen te staan.

Volgens Mike Schlebach, uitvoerende hoof van PTWC, sluit die aansoek die neem van monsters op grootmaat in en behels dit grootskaalse gronduitgrawings.

Luidens die omgewingsimpakverslag (OIV) en die omgewingsbestuursprogram (EMPr) sal sowat twintig vlak kuile eers gegrawe word wat toegegooi sal word sodra die resultate aangeteken is. Daar sal met die aktiwiteit voortgegaan word totdat daar ongeveer 1 000 karaat diamante herwin is om die uitvoerbaarheid van mynboubedrywighede vas te stel. As dit daarop dui dat daar voldoende rede is om voort te gaan, sal ? reeks kuile van 10-15 m diep, 300 m lank en 150 m breed op die strand tussen die laag- en hoogwatermerke gegrawe word. ? Berm van 5-10 m sal ook rondom elke sloot gebou word om seewater daaruit te hou.

Die verslag dui aan dat die resultate wat verkry word, ook sal bepaal hoe die diamante op die ou end ontgin sal word.

“Dit alles vind plaas in die middel van ? ekologies sensitiewe gebied wat gewild is vir branderplankry, ontspanningskampeerders, stappers, vissermanne en plaaslike gemeenskappe wat op visvangste staatmaak vir voedsel en inkomste,” het Schlebach gesê.

Hy het benadruk dat die publiek waarskynlik tot sommige of al hierdie gebiede verbied sal word terwyl prospekteeraktiwiteite plaasvind en beslis, as enige werklike mynbou op ? later stadium plaasvind. “Hierdie gebied is die onderwerp van soortgelyke prospekteeraansoeke vir diamante en swaar minerale, waarvan sommige oorvleuel,” het hy uitgebrei.

“Daar is verskeie operasionele myne aangrensend aan hierdie gebied, insluitend die uitgestrekte swaarsandmineraalmyne in die nabygeleë omgewing.”

Die PTWC doen ? beroep op Weskussers om beswaar teen die aansoek te maak. Hoewel Fish by the Sea beweer in hulle aansoek dat die effek van hierdie prospektering op fauna en flora nul sal wees en die OBPr verskeie maatreëls om skade tydens die prospekteerproses te voorkom stipuleer, gee die dokumentasie toe dat die voorgestelde terrein “? kritieke mariene biodiversiteitsgebied is”.

Schlebach meen hoewel prospektering die omgewing ontwrig, is die skade wat volskaalse mynbou wat altyd daarna volg ? ander saak. “Indien dit haalbaar is om vir alluviale diamante te ontgin, sal daar aansoek gedoen word om ? mynreg. As dit toegestaan word, beteken dit meer strande sal hoogs waarskynlik opgegrawe word.”

Volgens Schlebach beweer mynmaatskappye dat hulle die omgewing waar gemyn word op die ou end sal rehabiliteer, maar wys ondervinding dat hierdie pragtige, ongerepte stuk kus nooit ten volle in sy oorspronklike toestand herstel word nie.

“Daar is geen langtermyn-toekomsblik vir hierdie streek nie,” het Schlebach gesê. “Enige omgewings- en maatskaplike bekommernisse word opsy geskuif deur mynmaatskappye se potensiële winste en die inkomste vir die regering.”

Dit is hoekom PTWC ? beroep op die owerhede gedoen het om ? moratorium op alle mynbou-aansoeke te plaas totdat ? strategiese omgewingsbeoordeling vir die hele streek gedoen is.

• Stuur vóór 22 Julie 2024 ? e-pos aan EnviroAfrica BK, wat die openbaredeelnameproses behartig, by maboee@enviroafrica.co.za. Benewens jou kommentaar oor die OIV en die EMPr en jou beswaar teen die aansoek, moet die e-pos jou naam, kontakbesonderhede, die projeknaam: Proposed prospecting for diamonds with bulk sampling on approximately 121 ha between low-water and high-water mark on Portion 4 of farm Rietfontein Extension No. 151 and Portion 4 of farm Graauw Duinen No. 152, Vanrhynsdorp en die DMRE-verwysingsnommer: WC 50/1/1/2/10454/ PR, bevat. Enige besigheids-, finansiële, persoonlike of ander belang in die aansoek moet aangedui word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article