Middelpos se nuwe skool word reeds gebou, maar ’n sakeman van Saldanha meen te min is gedoen om plaaslike kontrakteurs deel van die projek te maak.
Samuel Julies, die eienaar van Setotho-konstruksie, sê ten spyte van ’n belofte van Atuba-konstruksie om saam met die gemeenskap te werk, laat sy ervaring met die kontrakteur veel te wense oor.
Julies voer aan hy was die enigste subkontrakteur wat ’n tender ingedien het – vir aluminiumwerk by die skool – maar hy het nogtans nie dié tender gekry nie. Atuba het by navraag gesê nog tenders is via e-pos ontvang en een van dié maatskappye is toe aangestel om die werk te doen.
Julies meen egter dié aanstelling gaan teen die ooreenkoms wat Atuba met die gemeenskap aangegaan het.
Die Saldanha Black Business Alliance (SBBA) het intussen sy steun agter Julies gesit. Dié organisasie, wat onder meer plaaslike sakelui ondersteun en bemagtig, meen dit gebeur gereeld dat groot kontrakteurs na die streek kom vir projekte waarby plaaslike sakelui en ambagsmanne nie baat vind nie. Die Middelpos-projekbestuurskomitee is gestig om as toesighouer namens die plaaslike gemeenskap op te tree vir die projek.
Volgens Simphiwe Jantjies, lid van die projekbestuurskomitee, het die komitee en gemeenskap dit duidelik gemaak dat hulle nie elektroniese tenders as deel van die aansoekproses aanvaar nie. Jantjies sê genoeg plaaslike kontrakteurs met die nodige kennis en ervaring om aan groot konstruksieprojekte te werk, is hier beskikbaar. “In uitsonderlike gevalle, waar die nodige vaardighede werklik nie aan die Weskus gevind kan word nie, aanvaar ons die net vir aansoeke moet wyer gegooi word. In dié geval [van Julies] was dit egter nie nodig nie, want Setotho-konstruksie was geskik om die werk aan te pak,” meen hy.
Julies sê vrae oor watter maatskappye ook vir die aluminiumwerk getender het, die notules van ’n spesifieke komiteevergadering en algemene deursigtigheid oor die tendertoekenning val op dowe ore.
Weslander het Abuta gekontak vir bykomende inligting oor die aangeleentheid met Julies, maar het geen addisionele kommentaar gekry nie.
Abuta het wel gesê verskeie van Julies se vereiste dokumente was nie in orde nie, en dit, tesame met ’n kwotasie wat die voorskrif van die werk oorskry het, het beteken Julies se tenderaansoek is afgekeur.


