Die polisie ondersoek ’n moordsaak nadat die liggaam van ’n 61-jarige vrou van Langebaan Sondagmiddag (10 Maart) in haar huis in Sunbird Drive, Myburghpark, ontdek is.

Haar man en seun het glo op haar afgekom.

Weslander het vroeër berig West Coast Medical Rescue het ’n noodoproep ontvang van iemand wat hulp ontbied het en met hul aankoms het hulle een pasiënt aangetref wat geen teken van lewe getoon het nie. Die toneel is daarna aan die polisie en forensiese deskundiges oorgegee.

Volgens sers. Henry du Randt, ’n polisiewoordvoerder, het die polisie met hul aankoms op die slagoffer in haar bed afgekom. Sy het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad.

Luidens die polisie woon die oorledene se man en seun elders en het hulle Vrydag (8 Maart) laas met haar kontak gehad.

Die nuus kom as ’n groot skok vir die gemeenskap van Langebaan.

Charmaine Laubscher, die wyksraadslid vir die gebied (wyk 6) en Saldanhabaai se onderburgemeester, sê sy is uit die veld geslaan.

“Dit was ’n groot skok vir my, want dit is nie iets wat gewoonlik hier gebeur nie. Ons woon in ’n klein en redelike veilige dorp. Ek glo vir die omliggende bure was dit self net so ’n groot skok,” sê Laubscher.

Sy maan die publiek om die polisie die geleentheid te gee om hul werk te doen en die regte feite agtermekaar te kry.

“Ek vra dat die publiek nie spekuleer nie. Dit kan ’n saak heel befonkfaai.”

Die motief vir die moord is in hierdie stadium nog onbekend en niemand is al in hegtenis geneem nie. . Die polisie versoek die publiek om na vore te kom met enige inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van moontlike verdagtes. Kontak adjunk-offisier Wessenaar by die Langebaan-polisiekantoor by 022 707 5140 met inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article