‘n Groot vangs is nooit vir enige hengelaar te versmaai nie, maar vir Michael Viljoen was ‘n onlangse byt iets besonders.
Viljoen het aan die Weskus-rotsestrand-ligakompetisie in Struisbaai deelgeneem, waar verskeie hengelklubs meegeding het.
Viljoen, wat meer as 20 jaar se ervaring in hengel het en sedert 2005 ‘n lid van die Langebaan-hengelklub is, het ‘n bielie van ‘n skeurtandhaai uit die water getrek.
Dié haai het ‘n verbysterende 211 kg geweeg en was 2,21 cm lank – die tweede grootste vangs in die liga sedert 2012, wat destyds 217 kg was.
Viljoen sê in ‘n ligakompetisie is die teiken gewoonlik haaie omdat dit die meeste punte inbring.
“In hierdie geval het ek vir ‘n groter haai gemik – spesifiek ‘n skeurtandhaai. Hy het die aas die derde keer gevat. Gewoonlik word haaie tussen 50 kg en 150 kg as ‘n grote beskou. Groter as dit is onverwags.”
Viljoen meen dit was ‘n nederige gevoel en hy is baie dankbaar.
“Jy is op daai oomblik net bly en jy kan self nie glo dit het gebeur nie, want jy kry in jou leeftyd dalk net een keer so ‘n kans.”
Hy voeg ook by dat dit ‘n groot prestasie vir die Weskus is en dat hengel in die Weskus gesond is, met ander wat altyd bereid is om te help.
Indien jy by die Langebaan-hengelklub wil aansluit, kontak Enrico Snyders (klubsekretaris) by 079 311 1622 of Mauritz Viljoen (klubvoorsitter) by 072 125 1848.





