Dit kan jare neem om ’n “oornag-sensasie” te word en Zaid McDonald is nou besig om die grondslag vir ’n lewe in sokker te bou.
Zaid (17), van Saldanha, se talent in sokker het reeds van kindsbeen af kop uitgesteek. Volgens sy ma, Jessica, is haar tiener se liefde vir dié sport byna ’n obsessie.
“Daar is baie keer wanneer ons twee vassit oor sy sokker, want skoolwerk moet eerste kom. Sy liefde vir sokker is ooglopend en as hy heeldag met ’n bal kon speel, sou hy,” meen sy.
Daarom was Zaid se insluiting in ’n groep sokkerspelers wat in Januarie 2024 na Swede reis vir proewe, ’n besonderse prestasie.
Maand na maand is Zaid na Kaapstad vir proewe by die BT Footbaal Recruitment-agentskap om vir die internasionale proewe te kwalifiseer. Die proewe moes tussen die matrikulant se vele ander verpligtinge plaasvind. Benewens sy eie veldwerk, help Zaid ook om jonger spelers af te rig. Hy is ook ’n jeugleier by sy kerk en natuurlik is daar die daaglikse akademiese uitdaging van gr. 12.
Dié Hoërskool Weston-leerder is nou onder die plaaslike spelers wat deur die agentskap gekies is.
Jessica sê dit is wonderlik om die talent van jongmense aan die Weskus te sien.
Talle sportsterre in sportsoorte van netbal tot rugby en sokker kom uit dié streek. Sy meen dit is daarom belangrik om Zaid, en andere soos hy, die geleentheid te gee om so veel as moontlik blootstelling te kry.
Ten spyte van sy vele verpligtinge bly Zaid gemotiveerd om sokker te speel. Hy sê die oorsese proewe, wat sy eerste internasionale besoek sal wees, is ’n droom wat bewaarheid sal word. Die doelskieter sê hoewel hy weet dit verg uitnemendheid en dissipline om dit in die sportwêreld te maak, is hy gemotiveerd.
. ’n Backabuddy-veldtog vir die Saldanhabaaier is begin. Enigeen wat kan help met die R50 000-onkoste van Zaid se toer, kan meer op dié webtuiste lees onder “Fundraiser for Football trip to Sweden” of skakel 066 233 6129.





