Die polisie in Langebaan was teen Woensdagoggend nog besig om leidrade op te volg ná die moord op ’n Langebaan-inwoner, Estelle Eksteen (61), die naweek.
Eksteen se liggaam is Sondag (10 Maart) gevind, maar die vermoede bestaan dat sy reeds Vrydag 8 Maart vermoor is. Volgens inligting was sy alleen in die huis.
Henry du Randt, ’n polisiewoordvoerder, het vroeër gesê die polisie het met hul aankoms op die slagoffer in haar bed afgekom. Sy het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad.
Volgens die polisie is geen tekens van gedwonge toegang tot die huis gevind nie en is niks van waarde op die oog af gesteel nie.
Intussen is die gemeenskap van Langebaan in rep en roer ná die bloedige aanval.
Peter Lindenberg, voorsitter van die Langebaan-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sê egter die publiek moet die polisie die geleentheid gee om hul ondersoek te doen.
Lindenberg sê misdaad in Langebaan is redelik onder beheer. “Ongelukkig is daar ’n klein groep mense wat hierdie voorval op sosiale media vir sensasie uitbuit en dit verbind met ander misdade wat jare terug gebeur het. Ek vind dit walglik,” het Lindenberg gesê.
Hy voeg by dat inwoners natuurlik bekommerd is, maar voel die polisie moet ’n regverdige kans gegun word om hul werk te voltooi. “Baie mense kap na die polisie, maar wanneer dit kom by ’n voorval soos hierdie is daar baie ondersoekwerk wat gedoen moet word.”
Nicolene de Wet, ’n inwoner van Langebaan wat Eksteen al jare lank ken, sê sy was ’n rustige, goeie mens wat niemand te na gekom het nie.
De Wet woon naby aan die huis waar Eksteen gewoon het, maar sê wat vir haar die ergste is, is dat Eksteen in haar eie huis vermoor is – en dit sonder dat iemand in die buurt onraad vermoed het.
“Ons woon naby haar en nie een het geweet watter aakligheid in daardie huis afgespeel het nie. Dit vreet aan my.”
Oor of die voorval vrees by haar gewek het, sê De Wet daar is geen. “Dis natuurlik om bang te wees, maar om eerlik te wees – ons is glad nie bang nie. Ons gaan net na die Here toe en Hy vervang ons vrees met geloof. Ons is wel hartseer oor wat met haar op so ’n wrede manier gebeur het.”
De Wet voeg ook by dat die gegons op sosiale media haar net so hartseer maak. “Baie is onsensitief en het nie respek vir die dood of die familie nie.”
Wat ontstellend is vir ’n inwoner van die Kaap, wat graag anoniem wil bly, is dat iemand die Donderdagaand (7 Maart) by haar bejaarde ma se huis in Langebaan, bloot vyf minute weg van Eksteen se huis, ingebreek het.
Die feit dat dit in die nag gebeur het terwyl sy geslaap het, is skrikwekkend vir haar. Net haar selfoon is gesteel.
Die dogter voel wel die polisie kon meer doen as net ’n saaknommer aan haar ma verskaf. “Geen verdere ondersoek is ingestel nie. Die polisie het aan haar gesê dis ’n algemene ding en sy moet net versigtig wees.”
Sy meen die polisie kon ten minste getoets het vir vingerafdrukke.
In hierdie stadium is die motief vir die Eksteen-moord nog nie bekend nie en niemand is teen druktyd in hegtenis geneem nie.
Die polisie versoek die publiek om na vore te kom met enige inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die verdagte/s. Kontak adjudant-offisier Wessenaar by die Langebaan-polisiekantoor by 022 707 5140 met inligting.. Pogings om die familie vir kommentaar te bereik, was teen druktyd onsuksesvol.




