Daar word gepleit dat selfone by skole verbied moet word.


Gemengde gevoelens heers wanneer dit by die verbod op selfone by skole kom.

Die Verenigde Nasies se opvoedkundige, wetenskaplike en kulturele organisasie, Unesco, het ’n persverklaring uitgereik waarin hy vra selfone by skole moet verbied word.

Volgens die verklaring hou slimfone onder minderjariges vele gevare in, en deur die gebruik daarvan tydens skoolure te verbied, sal dié gevare verminder word.

Die verklaring sê slegs tegnologie, wat ’n duidelike rol in die ondersteuning van leer speel, moet op skool toegelaat word.

Hylton Langly, die skoolhoof van die Laerskool Panorama, sê by dié skool verstaan hulle dat nuwe tegnologie belangrik is vir die onderwys, “maar tog is daar uitdagende faktore wat die gebruik van slimfone in ons skool baie moeilik maak”.

Langly sê nie alle leerders het egter die tegnologie nie.

“Ons beleid is dat geen fone op skool toegelaat word nie. Indien opvoeders die gebruik van slimfone vereis, sal die skool met die ouers daaroor kommunikeer.”

By die Laerskool Vredenburg is hul grootste motivering vir die verbod van slimfone in die klaskamers die holistiese ontwikkeling van die leerders.

Die skoolhoof, Nicoleen Loubser, sê slimfone het geen emosionele intelligensie nie en leerders baat geensins by sosiale ontwikkeling wanneer hulle met hierdie toestelle verkeer nie.

“Ons bekommernis is ook die fisieke ontwikkeling van ons kinders wat hand-en-oog-koördinasie en groot motoriese vaardighede betref – slimfone beperk kinders se fisieke beweging,” voeg sy by.

Vir Loubser lê haar persoonlike bekommernis ook by die soort inligting wat kinders via hul slimfone ondersoek.

“Ek waarsku dikwels ouers om te gaan loer wat hul kinders se laaste soektog op Google was, en 99% van die tyd is dit nie inligting wat hulle akademies sou verryk het nie. Inteendeel, dikwels is dit goed waarvoor hulle nog nie emosioneel gereed was nie en leiding van ’n volwassene nodig gehad het om te hanteer.”

Loubser erken onderwysers is moontlik nie so slim en alwetend soos ’n slimfoon nie, maar onderwysers bring liefde, omgee en holistiese ontwikkeling na die klaskamer.

“Ons ontwikkel kinders se emosionele intelligensie om hulle in ’n uitdagende wêreld te laat aanpas.”

Weslander het ook na ouers uitgereik oor hul denke oor die verbod op selfone by skole.

Een ouer, Eugenia Paulo-Goagoses, stel dit duidelik dat sy pro-selfone by skole is. Sy lê wel klem daarop dat dit gemonitor moet word met streng riglyne en maatreëls wat ingestel moet word. “Dit kan ook nie heeldag wees nie – ’n bepaalde tyd moet beskikbaar wees, en dit is waar beplanning van die skool se kant af inkom – en veral wanneer dit by sekere vakke kom.”

Felicia Adams, ’n ouer van ’n hoërskoolleerder, stem saam met ’n verbod. “Ek is nie ’n voorstander van selfone by kinders nie. Kinders hoort in ’n biblioteek.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article