Uiteindelik word geslagsgeweld teen vroue en kinders ‘n nasionale krisis verklaar. Is hierdie nie ‘n geval van mos-terd na die maal nie? Ek wonder maar net, want hoeveel jare al is die pleidooie aan die politieke leiers op nasionale vlak gerig om asseblief iets te doen aan die skrikwekkende toename van hierdie verskynsel(geslagsgeweld) in ons samelewing. Elke keer het dit óf op dowe ore geval óf daar is nog ‘n keer leë beloftes gemaak. Met elke leë belofte het net nog ‘n kind gesterf en met elke leë belofte is nog ‘n vrou wreedaardig verkrag en vermoor.

Soos wat die statistieke aangaande geslagsgebaseerde geweld ten hemele skree, hoor ek die stemme van hulle wat aan die ontvangkant daarvan is of was. Die tragiese deel hiervan is dat ‘n groot persentasie van hierdie stemme uit hul grafte om geregtigheid pleit.

“My naam is Amelia. Ek woon agter in ‘n hokkie op ‘n jaart in Smartie Town, Paarl. Ons is ses wat die ruimte in die hokkie moet deel. Ek is al vyftien. Daar is geen privaatheid in die hokkie nie.

“Ek sukkel om saans aan die slaap te raak, want ek is bang dit gaan weer gebeur. My oom bly ook by ons. Hy is my ma se broer. Hy het aan my gevat toe ek 13 jaar oud was. Een aand toe almal slaap, het hy by my kom inkruip. Dit was baie seer. Ek kan nie meer nie. Hy het gesê hy gaan my ma vertel dat ek hom aanleiding gegee het. Dis my tweede jaar in dieselfde graad op skool. Is daar iemand wat my kan help, asseblief?”

“Ek is Xoliswa. Ek woon in Malmesbury. Ek sukkel om die dood van my enigste kind te verwerk. Ek sukkel om mans te vertrou. Ek vra elke dag vir God – hoekom dan my kind? Sy was maar net nege jaar oud. Sy het by haar maatjie so twee strate van waar ons woon, gespeel. Hy het haar weggelok met die belofte dat hy vir haar lekkergoed by die kafeetjie sou gaan koop en dan huis toe sou bring. Hy het my enigste kind verkrag en vermoor. Dis slegs die depressie en slaappille wat help dat ek darem saans ‘n bietjie kan slaap.

“My kind se dood het veroorsaak dat selfs my huwelik op die rotse is. Die hofsaak sloer nou al vir maande. Ek sal slegs berusting kan vind as hy lewenslange tronkstraf kry. Die hart- seerste van alles is dat hy aan ons bekend was.”

“My naam is Karien. Ná al die jare besef ek nou eers dat ek nooit met hom moes getrou het nie. Die druk van my ouers en veral van my ma het my laat toegee. Hulle (my man se familie) is gesiene mense in Velddrif.

“Ek is nou bitter spyt dat ek nie verder gaan studeer het nie. Hy het daarop aangedring dat ek na die kinders moes omsien. Hy sou vir ons sorg. En nou? Ek kom so min by familie en vriende, want ek is te bang hulle sien die blou en pers kolle aan my gesig en arms raak.

“Niemand sal my in elk geval glo nie, want hy is ouderling op die kerkraad, besit ‘n paar ondernemings in die dorp en gee ruimhartig vir die behoeftiges in die gemeenskap. Hy is ‘n narsis. Ek het al selfdood oorweeg as ‘n uitweg uit my situasie.”

“My naam is Anton van Stellenbosch. Ek wens ek was ‘n sterker man. My pa was ‘n saggeaarde man. Ek aard seker maar na hom. Ek kom my pligte as man in ons huishouding na. My vrou behandel my asof ek ‘n vloerlap is.

“Ek is net goed genoeg as sy my bankkaart in die hande het. Sy beledig my tot in die privaatheid van ons slaapkamer. Ek sal nooit my hand lig vir my vrou nie. My ouers het my goed grootgemaak. Sy kraak my af voor haar vriende. Ek is nooit goed genoeg na haar sin nie. Ek weet nie vir hoe lank ek so sal kan aangaan nie. Dis nog net ter wille van ons twee kinders dat ek myself in

hierdie huwelik en verhouding bevind. Ek is moeg, maar ek moet sterk staan ter wille van my kinders. Die emosionele aftakeling wat ek daagliks moet verduur, raak nou te erg.”

As land hou ons vir nog ‘n jaar die sestien dae teen geslagsgeweld. Ons land het inderdaad al lank reeds die krisisvlak bereik wat hierdie verskynsel betref. Saam kan ons net bid dat daadwerklike optrede deur ons politieke leiers, wetstoepassers, gemeenskapsorganisasies en alle belangegroepe die gety kan laat draai – in so ‘n mate dat ons gemeenskappe ‘n veilige bestaan kan voer.

Die feestyd is op hande. Dit sal my stille gebed wees dat ons nie nog ‘n keer moet lees van nog ‘n kind of ma wat aan die hand van geslagsgeweld omgekom het nie.

Ek kan net hoop en bid dat elke man, vrou en kind nie nog ‘n statistiek of ‘n slagoffer van geweld – ongeag die aard daarvan, sal word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article