Altesaam 13 mense van Vredenburg kan weens beserings wat hulle in ‘n taxi-ongeluk opgedoen het, nie gister terugkeer werk toe nie.
Dit blyk dat die bestuurders van twee voertuie wat op Dinsdag 13 Januarie teen mekaar gebots het, tegelykertyd besluit het om ‘n kans oor ‘n oranje verkeerslig te waag. Die een wou regs draai, die ander wou reguit aanry.
Die gevolge van dié impulsiewe gedrag rimpel baie ver uit.
Baie mense word nie betaal as hulle nie werk nie. Buiten die emosionele trauma om magteloos in ‘n taxi te sit wat teen ‘n paal bots, is daar die koste van beserings en ‘n gebrek aan inkomste.
Taxi-ry is ‘n groot deel van Weskus-inwoners se vervoer na en van die werk af.
In kommentare op sosiale media word teen taxi-bestuurders te velde getrek, maar hier en daar tree veral Zulu- en Xhosa-sprekende mense vir hulle in die bresse.
“Taxi-bestuurders kry nie genoeg slaap nie”; “Taxi-bestuurders verkeer onder baie druk om aanhoudend te werk”.
Dieselfde kan van vragmotorbestuur- ders gesê word. Daar is baie druk op die bestuurders van taxi’s en vragmotors.
Min slaap kan egter nie veroorsaak dat iemand besluit om ‘n kans by ‘n oranje verkeerslig te waag nie.
Niemand moet dit doen nie, en asseblief ook nooit aanneem dat iemand anders dit nie ook tegelyke tyd gaan doen nie. Dit kan noodlottig wees, wat dit dié een keer gelukkig nie was nie.

