Bly Hoop en glo, 'n rubriek deur Andre Smith
Bly Hoop en glo, ‘n rubriek deur Andre Smith

Ek is so dankbaar en bly dat ons in Suid-Afrika jaarliks in Oktober ‘n hele maand daaraan wy om die fokus op die geestesgesondheid van elke landsburger te plaas. Met ons land wat onder soveel sosiale en politieke euwels gebuk gaan, is dit seker vir ons almal nodig om iewers ‘n uitlaatklep te vind. Ek meen maar – dit wat op ‘n daaglikse basis in ons land afspeel, het die vermoë om enige mens tot raserny te dryf, want wanneer, waar en hoe gaan daar ‘n keerpunt kom aan al die uiters pynlike gebeure wat daagliks, weekliks en maandeliks in ons dorpe, provinsies en land afspeel?

Die hartseerste deel hiervan is dat dit al amper as ‘n soort “normaal” ervaar word; asof ons almal maar gewoond moet raak aan die rooftogte, moorde, verkragtings en ander gruweldade in ons land. Ons almal probeer maar met die hartseerwerklikheid saamleef dat ek, jy of ‘n gesins- of familielid die volgende slagoffer kan wees.

Ek sidder as ek net daaraan dink.

Elke keer val die pleidooie van hulle wat werklik omgee, op dowe ore, want ons land se politieke leiers luister al lankal nie meer nie of het nie die vermoë om iets aan die situasie te doen nie, of hulle wil bloot net nie aandag daaraan skenk nie. Deesdae word alles en almal mos as strategiese politieke skuiwe ingespan.

Wat van hulle wat te midde van hierdie prentjie bloot net nie die mas kan opkom nie? Wat van hulle wat as gevolg van persoonlike trauma verplig is om iewers by ‘n inrigting vir die behandeling van geestesongesteldhede vir hulp moet gaan aanklop – natuurlik net dié wat dit kan bekostig?

Dan is daar die miljoene Suid-Afrikaners wat maar stilweg ly as gevolg van ‘n huwelik wat skipbreuk gely het, of dié wat werkloos en hulpeloos moet probeer sin maak uit sy of haar huidige werklikheid. Vir party mense word dit soms net te veel en word die “enigste uitweg” van selfdood gekies.

Verlede maand het ek spesifiek ook gedink aan ouers wat gebuk gaan onder die euwel van ‘n kind se dwelmverslawing.

Ek het myself al soveel kere die vraag afgevra hoe ‘n moederhart sterk kan bly as sy daagliks die pyn en lyding moet trotseer van ‘n kind wat aan tik verslaaf is.

Dit moet baie erg wees, want hoe kan ‘n ma haar eie kind afskryf? Hoe kan ‘n ma of pa ophou liefwees vir hulle kind? Tog moet die streep iewers getrek word, want daai kind of kinders het hulp nodig, maar hulle weier die einste hulp wat aangebied word. Dit laat my dink aan die Ellen Pakkies-rolprent wat destyds so opslae gemaak het. Hoe en waar klop ouers wat met hierdie tipe monsters saamleef, vir hulp aan?

En as die “swarthond” (depressie) aan die deur kom klop, hoe dan gemaak? Dis mos die een verskynsel waaroor baie van ons nie wil praat nie. Jy is mos ‘n swak mens as dit voor jou deur kom lê.

Jy moet mos die een wees wat die blink kant altyd ter wille van die gesin; ter wille van die kinders; ter wille van jou status in die gemeenskap; bo moet hou – dit ten spyte van die feit dat jy weet julle die huis gaan verloor, want julle kan nie meer die verband op die huis diens nie. Jy kan dit nie meer hanteer om toe te sien hoe jou kinders niks het om in hul kosblikkie vir die skool te sit nie, want daar is letterlik niks in die huis om vir hulle te gee nie. Om alles te kroon, hoop die skuld verder op.

Dit breek my hart om te lees dat nog ‘n pa sy eie kind vir ‘n aantal jare verkrag het en nou die bitter prys daarvoor moet betaal. Dit ruk aan ‘n mens siel as jy lees hoe seuns by skole in ons land ander seuns boelie en hulself daarin verlekker.

Dit laat ‘n mens sprakeloos as jy lees hoe ons vroue op ‘n daaglikse basis verkrag word. Wat het skeefgeloop in ons mans se lewens? Is ons nie veronderstel om die hoof van die huis en die rolmodel vir ons seuns en dogters te wees nie?

Die ergste van alles is dat party mans juis die mees kwesbare is, want ons wil nie erken dat daar fout is nie. Ons weier soms enige hulp en kies eerder die macho-houding van “ek kan my eie man staan”.

Ek weet daar is plekke of instansies wat fantastiese werk doen om te help verseker dat ons as landsburgers die uitlaatklep het om te praat oor die dinge wat seer maak. En as ons dan nie ‘n professionele sielkundige kan bekostig nie, is daar ander plekke of individue by wie ons kan gaan aanklop vir hulp.

Onthou net, jy is nie die enigste wat deur hierdie stryd gaan nie. As jou omstandighede van so ‘n aard is dat jy niemand het om jou las te help dra nie, weet dan dit: Die gebed van ‘n regverdige dra krag.

Jy is nie alleen nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article