Daar is iets betowerends aan die oomblik wanneer 1 Desember aanbreek. Dit is asof kinders se brein na Kersfees-modus oorskakel.
Die aftelling begin reeds met die Advent-kalender wanneer ‘n Kersfees-figurine van sjokolade voor ontbyt geëet word, want met Kersfees in die vooruitsig word die reëls ook aangepas.
Die Kersvader-wensbriefie word ook byna daagliks verander soos die advertensie-nuusblaaie by die huis opdaag.
En terwyl die inkopiesentrums vrolik versier word en die Kersfeesliedere oor die radio speel, maak die bokse Choice Assorted-koekies en vrugtekoek-advertensies hul opwagting om jou te herinner dat Kerstyd aangebreek het.
‘n Onvolmaakte Kersboom met sy handgemaakte kinder-ornamente en Kersbriefies saam met die liggies wat plek-plek nie meer brand nie, maak dit die perfekte Kersboom, ‘n boom met karakter en eie aan ons gesin.
Elke ornament vertel sy eie storie – van klein handgedrukte klei-ornamente tot sterre waarvan die punte met goue blinkers afgerond is, ‘n bewys dat tyd nie stilstaan nie.
Saam met die “unieke” Kersboom maak die elfie sy verskyning. Hy sorg vir die ekstra dosis opgewondenheid – en chaos – in ‘n huishouding wat reeds op ‘n drafstap is. Van verskuiwende ornamente, draperende toiletpapier tot Barbie-poppe wat in die pan probeer ontsnap van die elfie se stout streke. En dan moet die skepper van die chaos elke jaar met nuwe, oorspronklike idees kom om dit interessant te hou, net om ná die tyd boonop self te moet opruim. En dan die paniek as die alarm die volgende oggend afgaan en die elfie is nog in dieselfde posisie.
Kerskoekies word ook spesiaal vir die okkasie gebak en die mooistes word eenkant gehou – sorgvuldig versier vir die lang tog van die Noordpool af.
Terwyl op Oukersaand koekies en melk uitgesit word vir Kersvader met sy takbokke wat iewers deur die nag hul opwagting gaan maak, moet die geskenke saggies hul plekkies onder die boom inneem – “saggies”, nadat die kinders onderneem het om die hele nag wakker te bly om Kersvader en kie op heter daad te betrap… met meelgestrooide voetspore, ‘n paar oorblywende koekiekrummels en ‘n leë melkglas wat wys dat Kersvader wel sy pad tot hier gevind het.
Met die kosvoorbereiding reeds dae voor Kersdag in aanloop, weet jy daar is ‘n boud in die oond as die lang kerfmes uitgehaal word.
Dit is iets in jou huis wat waarskynlik slegs een keer per jaar gebruik word, maar Kersdag inprent.
Die koekstruif is ook elke jaar ‘n kunswerk op sy eie met verskeie lae jellie afgerond met room, aarbeie en kersies.
En elke jaar wonder jy hoe lank gaan jy kan voortgaan om die magic so onverdeeld voor te hou voordat jou kroos met ander oë daarna kyk, wanneer Kersvader en sy takbokke nie meer nodig gaan wees om geskenke te bring nie.
Jy hoop eendag as hulle groot is, sal hulle die magic van Kersfees onthou soos hulle dit deur hul kinder-oë beleef het; dat hulle die tradisie van Kersfees sal laat voortleef … hoe dit voel om te droom sonder beperkings en bekommernisse. Want op die ou einde het dit nooit gegaan oor die geskenke, Kersboom en liggies wat nie altyd ewe sterk flikker nie, maar oor die tydlose ritueel wat jou dankbaar maak – dankbaar vir nog ‘n Kersfees saam met familie; nog ‘n Kersfees waar kinders net kan kind wees om vir net nog ‘n rukkie te kan droom.





