Om in sak en as te gaan sit, gaan jou nêrens bring nie – dit is tyd om vernuwend te dink.

Dít was die raad van Melt Loubser, uitvoerende hoof van Fair Cape Dairies, by die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, se 14de krag-digikonferensie. Dié konferensie word deur die Wes-Kaapse regering gehou om inligting aan die publiek te bied oor die regering se planne oor die voortslepende kragkrisis.

Loubser was vandeesmaand se gas en het Donderdag (8 Junie) vertel van die maatskappy se melkery wat sonkrag gebruik.

Alwie Lester, die premier se raadgewer en ’n voormalige bestuurshoof van Eskom in die provinsie, het op sy beurt gesê verbruikers kan verligting van beurtkrag verwag.

Lester verduidelik namate die vraag na elektrisiteit in die wintermaande toeneem, sal minder instandhoudingswerk gedoen word, wat tot minder beurtkrag kan lei. Hy waarsku egter Eskom moet ’n balans tussen instandhouding en kragvoorsiening handhaaf.

Terwyl talle plaaslike ondernemings spook om die ligte aan te hou, het Loubser verduidelik vir Fair Cape is hul sonplaas deel van ’n groter plan vir hul maatskappy. “Om ’n mededingende onderneming op internasionale vlak te hê, is uiters belangrik. Daarmee in gedagte was een van die maatskappy se doelwitte om na alternatiewe kragopwekking te kyk.

“Ons het in 2018 reeds die eerste belegging gedoen deur die melkery onafhanklik van Eskom-elektrisiteit te maak. Die produksie-eenhede is dus gedurende die dag onafhanklik van Eskom en gebruik sonkrag,” het hy verduidelik.

Die stelsel is sedert 2021 onafhanklik van Eskom en wek nou 1,1 megawatt elektrisiteit op.

Loubser maan egter om heeltemal onafhanklik van die nasionale kragnetwerk te wees, is nie die doel nie.

“[Sakelui] moet saam met die staat werk en ons moet aanvul waar ons kan,” meen hy.

Selfs met hul eie kragopwekking het Fair Cape se elektrisiteitsrekening ook gestyg, maar in plaas daarvan om 15,5% meer per eenheid te betaal, het die maatskappy se kostes 5,5% per eenheid gestyg, het Loubser verduidelik.

Winde het ander ondernemings aangeraai om na alternatiewe kragopwekking te kyk en te besluit of die toekomstige belegging uiteindelik tot voordeel van die onderneming kan wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article