Die polisie het op ’n groot hoeveelheid dagga by ’n huis in Vredenburg afgekom.


Die plaaslike polisie het Saterdagaand twee verdagtes vir die besit van verskeie soorte dwelmmiddels vasgetrek.

Kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van Vredenburg-polisie, het gesê twee verdagtes is in hegtenis geneem tydens ’n klopjag wat daarop gemik was om dwelms in die dorp op te spoor en daarop beslag te lê.

Die polisie het beslag gelê op dagga, tik en Mandrax-tablette by twee verskillende huise asook ’n hoeveelheid kontant wat moontlik uit dwelmhandel gemaak is.

Die twee mans, wat 33 en 22 jaar oud is, is onderskeidelik by ’n huis in Adelaarstraat en in Spreeustraat in hegtenis geneem.

Volgens Helfrich is die polisie baie afhanklik van die gemeenskap om hulle in te lig oor mense in hul midde wat moontlik onwettige dwelmmiddels besit of smous. “Dit is dikwels te danke aan ’n lid van die publiek dat ons vinnig kan optree om dwelmhandelaars te vang,” het Helfrich verduidelik.

Sy moedig die publiek aan om altyd onmiddellik die polisie te skakel wanneer hulle iets of iemand verdag in hul woonbuurte waarneem, want hoe gouer die polisie van ’n misdryf weet, hoe groter is die kans om die skuldiges op heterdaad te betrap.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article