Tiener Mej. Paternoster Aqeela Stinger ontvang haar kroon by Gaynor Pieters.Foto’s: Yaël Malgas


“Dit was wonderlik om die verandering in hulle te sien en al die selfvertroue wat hulle gekry het.”

Só vertel Gaynor Pieters van die Good Heart-stigting.

Die organisasie het Saterdag die Koelkamers-teater in Paternoster met die Mnr. en Mej. Paternoster-kompetisie in ’n modeparade omgeskep. Pieters sê vanjaar se geleentheid was hopelik die eerste van vele, want dit het nie werklik gegaan oor wie die wenners was nie.

“Ons het gedink wat ons vir die kinders en jongmense kan doen om hulle ’n bietjie te inspireer en ’n doelwit te gee om voor te werk. Ek het met ’n paar kinders gepraat en besef baie van hulle het min selfvertroue en is geneig om mekaar af te druk.

“Daarom was die tema van die aand ook #selflove, want die belangrikste is om goed te voel oor jouself en bietjie selfvertroue op te bou,” meen sy.

Pieters vertel daar was kere dat baie van die deelnemers wou onttrek en dit was veral moeilik om die seuns moed in te praat. Maar, sê sy, dit was wonderlik om te sien hoe baie hulle in die kort tyd gegroei het. “En dit was nie net hulle nie. Ek is nie juis een om op die verhoog te praat nie, maar ek het Saterdagaand my sê gesê en ook besef ek het soveel om by hulle te leer.”

Die deelnemers loop in hul beste uitrusting op die loopplank met die skare wat entoesiasties vir hul gunstelinge hande geklap het. Terwyl sommige ’n bietjie skaam was, het baie ook hul persoonlikheid ten toon gestel. Dit was geensins ’n maklike taak vir die beoordelaars, die akteur Maurice Paige, die Weskus se eie Mnr. Suid-Afrika-finalis Clayton Rhulani Mnise en Alexis Leilani Raymond, oftewel Ms Alexis, om die wenners te kies nie.

Uiteindelik is Veronique Fluks as Mej. Persoonlikheid gekroon, saam met Dillan Brown as Mnr. Persoonlikheid.

Die ander wenners van die aand was die tweede prins, Ewynn Pieters, Abednego van Wyk was die eerste prins en Dillian is ook as Mnr. Paternoster aangewys.

Tiener Mej. Paternoster was Aqeela Stinger. Die tweede prinses was Taneisha Engelbrecht en Tatum Pieters was derde prinses.

Halley-Jade Kasper het met die kroon van Mej. Paternoster weggestap met Lineeve Bester (eerste) en Veronique (tweede) as die prinsesse.

Pieters sê hoewel die geleentheid ’n uitdaging was, het sy ’n ysterspan agter haar gehad. Sy bedank almal wat tot die geleentheid bygedra het en hoop om sommer gou weer nog ’n prettige geleentheid aan te bied.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article