’n Klein meisietjie staan langs my. Sy is seker so vyf jaar oud. Sy het ’n geel ballon in die hand. Die ballon lyk ’n paar dae oud – nie meer so styf nie. Dis so half opgeblaas – amper soos ’n mens se paycheck kort nadat al die debietorders afgetrek is.
Sy hou die ballon styf vas.
Voor my staan haar ma. Haar gesig hang, want al haar gesin se meubels staan buite in die straat. Haar man is drie maande gelede oorlede en nou, ná dié drie maande, het die eienaar se werkers haar meubels kom uitgooi.
Geen hofbevel is uitgereik nie en die reën is op pad.
Die ma is bedroef en bekommerd, maar die kind geniet haar geel ballon te veel. Die wind het vir ’n rukkie gaan lê en die kind gooi haar ballon en vang dit soos dit afkom. Sy lag en gooi dit weer in die lug; heen en weer gaan die ballon op en af terwyl haar ma bekommerd is.
“Waarheen gaan ons? Dis net ek en my twee kinders. My man is lankal oorlede. Ek het nie ’n werk nie. Ek het nie ’n heenkome nie.”
Buite staan ’n wit hangkas sonder rakke, ’n lessenaar wat so half onderstebo staan en waar ’n klomp woorde aan die bokant met penne geskryf staan – “Nathy G” met die G onderaan is telkemale op die lessenaar geskribbel. Aan die kant staan die naam “Nathan” – seker die meisie se boetie.
Die naam trek dadelik my aandag, want my broer se naam is ook Nathan. Die naam beteken juis “gift from God” dink ek by myself. “Nathy G” is seker Nathan se rap-naam. Dis ’n cool naam, dink ek. Dis ’n cool rap-naam – amper soos 50 Cent of Eminem. Dis ’n rap-naam wat ’n mens sal onthou.
Die ma smeek my vir hulp. Sy weet nie wat om te doen nie. Die meubels staan buite in die oopte; onder swaar, donker wolke.
Ek trek my skouers op. “Mevrou, ek kan hieroor skryf, maar ek kan nie betrokke raak en so aan nie. Ek moet objektief wees, maar my raad aan jou is – bel die polisie en bel ’n regskliniek in Stellenbosch wat mense in sulke situasies help,” sê ek.
Ek gaan soek op Google op my foon en kry die kliniek se nommer om dit vir die vrou te gee, en terwyl ek soek, steek ’n sterk wind op.
Op daardie splitsekonde het die meisiekind haar geel ballon weer in die lug gegooi, maar dié keer skep die wind die ballon.
“Mamma!” skree sy en wys na die ballon wat straat-af wegwaai. ’n Vodde wit Nissan Hardbody kom verbygery.
“Mamma, help!” skree sy weer soos die bakkie die ballon net-net millimeters mis.
Ek sug. Die ma sug. Die meisiekind staan half gevries. Haar een hand reik voor haar uit, amper asof sy self probeer om te keer dat die ballon nie pop nie, want dis al wat sy het.
Ver onder in die straat hardloop ’n man in blou overalls na die ballon toe en tel dit op. Hy bring dit vir die meisietjie wat op en af spring van opgewondenheid. Sy het haar ballon en die wêreld is weer reg.
Haar ma groet my bedroef; haar skouers hang.
Die geel ballon is nou in albei die meisietjie se hande. Sy laat dit nie weer gaan nie; sy mag dit nie weer “amper” verloor nie.





