Die Salkoriane-atletiekklub se meesters ná hul internasionale deelname. Van links is Rencia Swartz, Veronica le Roux, Sakkie Mentoor, Hendrick Basson, Phillip Jacobs, Piet Dokter, Welize Dokter en Patricia Mentoor.


Die Weskus se meestersatlete het onlangs die pad na die nasionale Afrika-veld-en-baan-kampioenskap gevat en die streek trots gemaak.

Vir baie van die atlete was die kampioenskap, wat van 16 tot 18 November gehou is, nie net ’n hoogtepunt van die jaar nie, maar ook hul sportloopbane. Vir baie was dit die grootste sportbyeenkoms waaraan hulle nog deelgeneem het.

Vanjaar was slegs die tweede keer wat die Salkoriane-atletiekklub se meesters aan só ’n prestige- kampioenskap deelgeneem het.

In 2007 het die klublid Phillip Jacobs in Italië aan baanitems deelgeneem. Dit was toe vir Jacobs ’n groot uitdaging om soggens te oefen en dan smiddae ook ’n oefensessie in te kry.

Vir die onlangse geleentheid in Pretoria het die atlete hard gewerk om fisiek asook geestelik vir die Afrika-kampioenskap fiks te wees.

Hoewel dit ’n kontinentale sportbyeenkoms was, het lande soos Duitsland, Australië en Estland ook deelgeneem. Die Suid-Afrikaners het hulle goed van hul taak gekwyt – veral in die kortafstand-wedlope.

Die land is veral goed deur Weskussers verteenwoordig met atlete van Salkoriane en Langebaan Strandlopers wat deelgeneem het.

Die Salkoriane-atlete het ses medaljes huis toe gebring – vier silwer en twee brons – ’n puik prestasie; veral omdat dit die groep se eerste internasionale byeenkoms was.

Piet Dokter het die tweede plek in die spiesgooi verower met ’n gooi van 28 m. In diskus het sy 23,17 m-gooi hom ’n derde plek besorg.

Hendrick Basson was op sy beurt in die derde plek vir die diskus met ’n afstand van 18,32 m. In die gewigstoot het hy derde plek gekry met ’n 6,27 m-gooi.

Jacobs het sy twee silwermedaljes verower deur die 6 000m-wedloop in 24:11 te voltooi en die 1 500 m-wedloop in 05:14.

In die verspring het Sakkie Mentoor tweede geëindig met ’n sprong van 3,63 m.

Die meesters van die skoner geslag het nie op hulle laat wag nie. Veronica le Roux het sesde in spiesgooi geëindig met ’n afstand van 9,3 m. Sy was ook vyfde in die diskus met ’n 13,35 m-gooi.

Welize Dokter se 11,32 m-spiesgooi het haar die sesde plek besorg en haar 11,46 m-diskusgooi agste plek.

Patricia Mentoor het sesde geëindig in spiesgooi met ’n afstand van 10,15 m en agste plek vir diskus danksy ’n prestasie van 10,21 m.

Rencia Swartz het negende geëindig in die gewigstoot met ’n gooi van 5,62 m en haar diskus het 11,63 m ver geland. Dié diskusgooi is ’n persoonlike beste.

Benewens hul onderskeie prestasies het al die meesters ook ’n medalje vir deelname ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article