Anthony Arnolds, Piet Dokter en Sakkie Mentoor van Salkor by die SA meesterskampioenskap in 2022.


Die meesters van Salkoriane-atletiekklub is opgewarm en gereed vir die Afrika-meesterskampioenskap in November.

Die groep goue oues het egter finansiële hulp nodig om na Gauteng te reis vir die geleentheid en om hul nuwe sportdrag aan te skaf.

Salkor se meestersatlete neem gereeld aan provinsiale en nasionale kompetisies deel en bring gereeld medaljes terug danksy hul puik prestasies. Vroeër vanjaar het hulle aan die SA Meesters- baan- en veld-atletiekkampioenskap in Groenpunt, Kaapstad, deelgeneem en hul staal gewys. Die groep se vertoning by dié kwalifiserende geleentheid beteken 10 klublede is na die Afrika-kampioenskap geneem.

Hier sal hulle aan baan- en veld-items deelneem.

Onder die uitblinkers by die Groenpunt-geleentheid was Eugene Gouws. Ten spyte daarvan dat dit sy eerste keer by die byeenkoms was, het hy goed gevaar in die spiesgooi (22,04 m) en gewigstoot (7,58 m) en goud vir dié prestasies verower.

Sakkie Mentoor was tweede in die verspring vir sy ouderdomsgroep met ’n sprong van 3,34 m en het ’n silwermedalje gewen. Welize Burgess, Hennie Basson, Patricia Mentoor en Piet Dokter was ook onder die klub se uitblinkers.

Die klub vra nou ondernemings, organisasies en individue wat hulle kan help om die Weskus, Boland en provinsie by die Afrika-kompetisie te verteenwoordig.

Die groep moet onder meer vervoer, hul sportklere en verblyf vir die vyf dae lange geleentheid dek.

’n Geldinsameling word binnekort gehou, maar indien die gemeenskap hulle ’n hupstoot kan gee, kontak Burgess by 079 846 2425 of Sakkie Mentoor by 071 427 6731.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article