Wanneer, asook waar rokers sigarette koop, kan heeltemal verander.


Nuwe wetgewing oor tabak en e-sigarette is op pad, maar volgens informele handelaars is meer tyd vir kommentaar nodig.

Die regering het planne om die vervaardiging en verkoop van tabakprodukte en e-sigarette te reguleer met die nuwe wetsontwerp op die Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Afleweringstelsels. Belanghebbendes het tot môre (4 Augustus) om kommentaar te lewer oor die wetsontwerp, wat onder meer sal bepaal waar en wanneer iemand mag rook en hoe die verpakking van tabakprodukte moet lyk.

Die Suid-Afrikaanse Alliansie vir Informele Handelaars (Saita) het reeds ’n beroep op die regering gedoen om die kans vir kommentaar te verleng. Volgens Saita is sigarette een van die mees winsgewende produkte vir die sektor. In baie gevalle verkoop informele handelaars los sigarette, wat hul winste van ’n pakkie sigarette vergroot.

Ingevolge die nuwe wetgewing sal los sigarette egter nie verkoop mag word nie. “Ek koop los sigarette sodat ek uiteindelik minder rook. Dit is baie moeite om elke keer ’n paar los sigarette te koop, so, as ek aan die einde van die dag nie meer sigarette het nie, dan hou ek uit tot die volgende dag. As ek ’n hele pakkie het, is die versoe­king om meer te rook, net te groot,” het ’n Vredenburger, wat 24 jaar lank rook, aan Weslander verduidelik. Plaaslike handelaars meen ook om nie meer los sigarette te verkoop nie, sal gewis hul winste seermaak.

“Hierdie bepaling sal ’n verwoestende impak op die informele handel hê, aangesien die meeste handelaars enkel sigarette aan hul klante verkoop. Dit is omdat klante nie ’n hele boks sigarette op ’n slag wil hê nie, maar meestal omdat hulle nie kan bekostig om ’n hele boks sigarette op ’n slag te koop nie.

“Natuurlik weet ons hierdie verbod sal óf nie in die informele handel geïmplementeer word nie, óf geleenthede skep vir korrupte polisiebeamptes om omkoopgeld van informele handelaars te kry,” meen Rosheda Muller, president van Saita. Rokers en gebruikers van e-sigarette sal ook moet mooi trap, want rook in openbare ruimtes kan ook verbied word as die eienaar van ’n perseel dit goeddink. Rook in ’n private motor waar ’n nie-roker of kind is, sal ook verbode wees.

Die verpakking van sigarette, tabak en die elektroniese weergawes sal streng gereguleer word en eenvoudig wees. Handelaars sal ook nie enige sigarette mag uitstal nie en produkte sal slegs aan mense ouer as 18 jaar op aanvraag verkoop mag word. Die volle wetsontwerp is by www.parliament.gov.za/bill/2307574.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article