Die rymkletser Matthew Joyner spog met sy pryse.


Die rymkletser Matthew Joyner (21) en die sanger Tesnique Malgas (25), beter bekend as Tess E., het die Weskus se naam behoorlik hoog gehou by die 2021- Public Health Entertainment Awards.

Die spoggerige geleentheid is Woensdag 22 Desember in die Paarl-stadsaal aangebied.

Die prysuitdeling gee erkenning aan al die talentvolle musiekkunstenaars in verskeie afdelings.

Die publiek het vir die benoemings en wenners in die verskeie kategorieë gestem.

Die Vredenburgse inwoner Joyner het twee pryse gewen en was ’n naaswenner in een afdeling, en Tess E. van St. Helenabaai het een prys losgeslaan.

Joyner het die lied van die jaar-prys vir sy liedjie “Hoodlife” asook die prys vir rymkletser van die jaar gewen. Hy is ook aangewys as naaswenner in die afdeling vir manlike kunstenaar van die jaar.

Joyner sê hy het glad nie verwag om ’n prys te wen nie, min wetende twee pryse wag op hom.

“Ek dink die toekennings het ander musiekkunstenaars aangemoedig om musiek te maak sodat hulle ook deel kan wees van die geleentheid. Dit het my ook meer blootstelling gegee,” vertel Joyner.

Hy het Public Health Entertainment Awards vir die geleentheid asook Damon Records bedank.

Tess E. het die musiekvideo van die jaar-prys vir haar musiekvideo “Kan Jy Hoor” gewen.

Sy sê die prys lê haar na aan die hart omdat dit haar eerste musiekvideo was.

“Ek was nie voorbereid op die goeie reaksie nie; dit wys net dat so baie mense my eintlik ondersteun en die kuns waardeer, en dat ek iets reg doen wat my musiek betref,” vertel sy trots.

Albei het ook almal wat vir hulle gestem het, bedank.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article