Die besluit om matriekuitslae in die media te laat publiseer of nie is in die hande van die matrikulante self, sê die departement van basiese onderwys.
Volgens die departement mag hy ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popia) nie die inligting bekend maak sonder die toestemming van die leerders of ander bevoegde mense nie.
’n Toestemmingsvorm is verlede Donderdag aan sowat 900 000 matrikulante oor die land heen gestuur nadat die departement met die Inligtingsreguleerder vergader het.
Toestemmingsvorms is ook in September aan matrikulante gestuur, maar is nou geskrap omdat dit nie die publikasie of weerhouding van hul matriekuitslae in die media dek nie.
Die eerste vorm wat uitgestuur is, voldoen blykbaar nie aan die Popia-vereistes nie, het Nomzamo Zondi van die Inligtingsreguleerder gesê.
“Dit was nie doel-spesifiek nie en het leerders nie die geleentheid gegun om toe te stem of nie toe te stem op elke gebied wat die verwerking van hul persoonlike inligting vereis nie,” verduidelik Zondi.
“Hoewel die reguleerder ’n verpligting het om te verseker geen onnodige belemmerings tot die vrye vloei van inligting, insluitend persoonlike inligting, kom voor nie, het dit ook ’n plig om te verseker dat sodanige persoonlike inligting verwerk word in ooreenstemming met die voorwaardes vir die wettige verwerking van persoonlike inligting.”
Matrikulante se uitslae word oor die jare altyd in die media gepubliseer.
Willem Spies, ’n prokureur vir Afriforum, voel dit is nie nodig vir die matrieks om toestemmingsvorms te onderteken nie aangesien hul eksamennommers nie direk aan hul identiteit gekoppel kan word nie. Hy het verlede jaar die departement in die hooggeregshof in Pretoria hieroor gepak toe die departement ook gedreig het om nie die uitslae te publiseer nie.
“Verlede jaar het die leerders geen toestemmingsvorm onderteken nie. Ons argument was dat toestemming nie nodig is nie omdat die inligting nie aan ’n spesifieke individu gekoppel kan word sonder die betrokke eksamennommer van die leerder nie. Die hof het nooit oor die regsvraag beslis nie. Die departement het besluit om toe te stem tot die bevel dat die uitslae gepubliseer word, maar dat hy vanjaar met die reguleerder oor ’n gepaste proses sou ooreenkom.
“Ek dink die departement en die reguleerder maak ’n fout deur te aanvaar die matriekuitslae, wat slegs aan ’n eksamennommer en -sentrum gekoppel is, is private inligting. Slegs die betrokke leerder ken sy of haar eksamennommer en slegs iemand wat deur die leerder van ’n nommer voorsien is, weet wie se uitslae dit is. Die praktyk beskerm reeds privaatheid.”
Die matrikulante lê môre hul laaste groot vraestel, Afrikaans 3, af.. The decision to have matric results published in the media or not is in the hands of the matriculants, says the department of basic education.


