Die matriekklas van 2023 skryf die laaste eksamen van hul skoolloopbaan.

Vir baie is dit ’n spanningsvolle, maar opwindende tyd in hul lewe, wat tot ’n nuwe fase gaan lei.

Sumari Smit, ’n gr.12-leerder aan die Hoërskool Hopefield, sê hierdie eindeksamen is belangrik “en daarom wil ’n mens so goed as moontlik presteer”.

“Dit is egter ook opwindend om elke dag nader aan die eindstreep te kom. My eerste vraestel was Engels- eerste addisionele taal. Dit was ’n vreemde gevoel om te gaan skryf, aangesien dit so ’n groot eksamen is en dit die laaste eksamen van my skoolloopbaan is. Aan die begin was ek skrikkerig en het nie geweet wat om te verwag nie, maar met elke vraestel het ek meer op my gemak gevoel,” sê Smit.

Die ontydige beurtkrag maak die leerproses en voorbereiding ook nie juis gerieflik vir baie leerders nie.

Volgens Quinetha Links, ’n gr. 12-leerder aan die Hoërskool Diazville, maak die wisselvallige kragonderbrekings dit baie moeilik vir haar om te studeer. Hoewel sy dit haar nie laat onderkry nie, probeer sy alles om haar goed voor te berei. “My hooffokus in my voorbereidingsproses is vorige jare se vraestelle. Dit gee my ’n beter begrip van waarop ek baie moet fokus, hoe die vrae gevra kan word en hoe ek dit moet beantwoord. Ek sorg ook dat ek die aand voor die eksamen genoeg slaap inkry.”

Carina van Wyk, ’n gr.12-leerder aan die Hoërskool Vredenburg, sê sy was maar angstig aan die begin, maar glo sy is redelik voorbereid vir wat die eksamens inhou. “Ek dink die rekordeksamen het ’n paar matrieks ’n bietjie banggemaak en daarom dink ek hulle sal harder leer vir die eindeksamen. Ek dink dit sal weerspieël word in die punte en dat ons redelik goed sal vaar – beter as in die rekordeksamen.”

Jano Reynolds van die Hoërskool Hopefield sê elke keer wanneer hy moeg is, herinner hy homself daaraan dat dit die laaste keer is dat hy homself kan wys hoe baie hy op skool geleer het.

“Dis ook hierdie punte wat vir ewig op ’n sertifikaat gaan verskyn. Jy weet nooit hoeveel keer jy daardie sertifikaat in die toekoms gaan nodig kry nie. Sit dus alles in, want hierna gaan ons tot agt weke vakansie hê waarin ons oorgenoeg kan rus.”

Die klas van 2023 wens mekaar deur die bank sterkte toe. Soos die gr. 12-leerder Madelaine Hoffman van die Hoërskool Hopefield so mooi sê: “Matrikulante van 2023, sorg dat jy die regte ingesteldheid het en gewillig is om beheer van jou toekoms te neem.

“Stel vir jou realistiese doelwitte. Daar wag baie uitdagings en wonderlike avonture op ons.

“My gunsteling-teksvers is Filippense 4:13: ‘Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee’. Baie sterkte met die eksamen.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article