’n Projek van vier alumni van die Universiteit Stellenbosch (US) se departement joernalistiek, wat hulle verlede jaar voltooi het, is by die 26ste Suid-Afrikaanse internasionale dokumentêre fees, Encounters, vertoon.
Die dokumentêre rolprent, Van Brood en Water, is die eerste projek deur studente van dié departement wat by ’n internasionale fees soos hierdie vertoon is. Die dokumentêr van 11 minute speel in ’n vissersgemeenskap aan die Weskus af en verken die daaglikse lewe, werk en verhoudings van ’n plaaslike visserman.
Dit is deur Stefani Terblanche, Sebastian Paulus, Keziah Bailey en Jodi-Mari Adams vervaardig. Wat dit nog merkwaardiger maak, is dat dit binne net drie weke voltooi is, sê Jurg Slabbert, ’n dosent in dokumentêre rolprentvervaardiging by die departement. Die kortkursus was net drie weke lank en in daardie tyd het die studente lesings bygewoon en die voorstel vir die rolprent gedoen, dit vervaardig, verfilm, geredigeer en self aangebied.
“Ek is so bly dat hul harde werk buite die klaskamermure erken word, en ek is seker dit sal aanklank vind by ’n wyer gehoor wat die rolprent gaan sien. Ek kan nie wag om te sien waarmee vanjaar se studente vorendag gaan kom nie.”
Encounters word as Afrika se voorste dokumentêre fees bestempel en is een van die langs bestaande sodanige feeste op die vasteland. Prof. Herman Wasserman, voorsitter van die departement joernalistiek, het die studente met hul prestasie gelukgewens. “Dit is veral indrukwekkend as ’n mens in ag neem dat dokumentêrerolprent-vervaardiging slegs een van vele multimedia-vaardigheidsmodules is wat ons studente vir hul honneursgraad moet voltooi. Hulle het as volslae beginners begin en het daarin geslaag om hierdie kortfliek binne ’n paar weke suksesvol te voltooi. Dit is ’n bewys van hul talent, harde werk en toewyding, asook die kundige mentorskap van hul dosent, Jurg Slabbert.”
Portret van ’n visgemeenskap
Die visserman Christiaan se bynaam is Witbrood en hy deel insigte oor sy daaglikse lewe en ondersoek die uitbuiting van ’n bedryf waarby hy al langer as 50 jaar betrokke is. Die rolprent boekstaaf ook die hoofstukke van sy lewe, met inbegrip van mylpaal-oomblikke soos toe hy sy vrou, Monica, by ’n domino-speletjie ontmoet het, asook die aanneming van ’n kind uit die buurt. Die film is ’n intieme en roerende portret van familie, doelwitte en om ondanks alles te seëvier.
‘Dis in die sterre geskryf’
Terblanche sê hulle het dit aanvanklik oorweeg om Adams se pa, ’n visserman, as die onderwerp van die dokumentêr uit te beeld. Bailey kom ook van ’n vissersdorpie waar haar familie by die bedryf betrokke is.
Sy sê dit was derhalwe “in die sterre geskryf” dat die groep iets sou doen wat met visvang verband hou. Maar toe het ’n besoek aan die Houtbaai-hawe daartoe gelei dat die plaaslike inwoners Witbrood as ’n interessante gevallestudie voorgestel het. “Hy was so vermaaklik dat ons die idee gekry het om op hom en sy vrou te fokus,” verduidelik Paulus.
“Ons wou lig werp op die visbedryf en kleinskaalse vissers se daagliks uitdagings.”
Opoffering en beloning
Oor die kort produksiespertyd sê Terblanche joernalistiekstudente is gewoond daaraan om snags laat en oor naweke as deel van hul veeleisende kursus te werk. Maar sy het ’n bykomende persoonlike uitdaging ervaar omdat die produksieskedule met ’n tyd van verlies vir haar gesin saamgeval het. “Gelukkig het ons span baie goed saamgewerk en was passievol oor die dokkie, dus het dit die gemoedere gelig.”
Adams verwys ook na die laat nagte en persoonlike opofferings wat dit geverg het om die stuk te voltooi.
“Ek dink die redigering was een van die stresvolste dele, omdat ons almal individue met verskillende kreatiewe idees is.”
Hulle stem almal saam dat die ervaring self die kort skedule meer hanteerbaar gemaak het.
“Ons het langs die pad ’n vriendskap en nuwe verhoudings met van die mense van Houtbaai gesmee, veral met tannie Monica en oom Witbrood, die sterre van die dokumentêr,” voeg Bailey by.
Die vier studente, wat in Maart met ’n BA Honneurs gegradueer het, is “nederig” dat dít wat as ’n klasprojek begin het, by soveel mense aanklank gevind het en aan ’n wyer gehoor vertoon word.
“Om hierdie projek te skep, was werklik iets spesiaal en terselfdertyd uitdagend, aangesien nie een van ons al ’n dokumentêre program geskep het nie,” sê Paulus.
“Dit beteken eerlikwaar die wêreld dat Encounters in hierdie projek geglo het en dit met die wêreld wil deel.”
- Die dokumentêr sal op Sondag 23 Junie om 19:00 by Encounters in Kaapstad in die Labia-teater vertoon word en op Saterdag 29 Junie (13:30) in Johannesburg.
- Vir meer inligting, besoek Encounters.





