Ons sien dit oral om ons heen

waar mense lag en leef en ween

’n maskerwêreld wat verskuil

wat die hart oor jubel

en soms oor huil

gemaskerde gesigte

versteek die pyn van doodsberigte

van papier wat in die nanag kraak

met woorde wat weer heel wil maak

hierdie harlekyn

soek net na jóú, my lam

vir jóú wil sy haar masker

aan ’n kapstok hang

haar hunker hart is skaam

waar sy al die eensaam jare

agter ’n wegsteek-masker staan

niemand weet meer

hoe glinsterende oë

agter maskers lyk

want hierdie maskerwêreld

het aan openhartigheid beswyk

’n mengelmoes gesigte

wat gevoelloos in die verte staar

iewers iewers daar buite

hunker iemand êrens

om na die prente in jóú oë te staar

sy vra net een kans

om haar hart se skans te sak

vir jou wil sy haar wegkruip-masker

in vreesloosheid se tas wegpak

maar hierdie harlekyn

soek net na jou, my lam

vir jóú wil sy haar masker

aan ’n kapstok hang

haar hunkerhart is skaam

waar sy al die eensaam jare

agter ’n wegsteek-masker staan.


Deur © Almarie Truter,

Saldanha

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article