Ferlin Julies, vleuel van St. Helenabaai, druk sy span se eerste drie teen Velddrif. Foto: Alida Buckle


Met die manne wat nou in Boland-rugby se grootuitdaagreeks van die seuns geskei word, het St. Helenabaai op sy tuisveld teen Velddrif 18-19 vasgeval.

Dit nadat die tuisspan rustyd 8-3 voor was.

Die twee spanne het mekaar deeglik getoets, met die tuisspan wat by tye gevaarlik op die aanval was. Velddrif het egter met rotsvaste verdediging die tuisspan verhinder om dit in punte te omskep.

Die tuisspan se eerste drie het gekom nadat byna die hele span die bal hanteer het. Met albei spanne wat ’n oorwinning broodnodig het om hul posisie op die punteleer te versterk, het die tuisspan kort ná rustyd sy voorsprong vergroot met ’n verdoelde drie.

Met die telling 15-3 in die tuisspan se guns het Velddrif se wil om te wen stadig maar seker begin wys. Die besoekers het die een na die ander aanval geloods en die tuisspan moes meeste van die verdediging doen.

St. Helenabaai het egter met rotsvaste verdediging hul voorsprong beskerm. Die tuisspan se dissipline het egter die besoekers se agterstand laat krimp en met twee strafskoppe was Velddrif weer in die prentjie.

Die besoekers het daarna die tuisspan se verdediging tot die uiterste beproef en is beloon met ’n verdoelde drie om vir die tweede keer in die wedstryd voor te loop. Met slegs een punt wat die twee spanne skei, het die tuisspan weer die voortou geneem met ’n strafskop.

Die tuisspan het daarna alles in die stryd gewerp, maar die besoekers het egter vasgebyt en met slegs minute oor weer die voortou met ’n strafskop geneem.

Die tuisspan het egter volgehou om aanvalle te loods en die besoekers wou nie bes gee. Die tuisspan het met twee minute speeltyd oor weer kans gekry om die wedstryd te beklink, maar die strafskop was mis.

Die tuisspan se nederlaag laat hulle in die sesde plek, terwyl Velddrif tans die vierde plek beklee.

Saldanha het op sy tuisveld Langebaan met 29-19 geklop en het reeds een hand op die streektitel. Met Mamre en Paternoster wat ook hul hande na die streektitel uitreik, is enigiets nog moontlik. Vredenburg se Burg Boys se treurige seisoen duur voort toe die span op sy tuisveld teen Paternoster vasgeval het.

Volledige uitslae vir die Weskus-streek: Saldanha 29-19 Langebaan, St. Helena 18-19 Velddrif, Mamre 78-6 Koringberg, Vredenburg 37-40 Paternoster, Piketberg 24-27 Young Hearts.

Swartland-uitslae: Moorreesburg 44-37 Abbotsdale, Darling 66-39 Goodhopes, Porterville 33-15 Villagers Wittewater, Riebeeck United 18-14 Saron en Wesbank 25-6 Never Despairs.

Die naweek se program: Velddrif t. Saldanha, Paternoster t. St. Helena, Young Hearts t. Vredenburg, Koringberg t. Hopefield en Langebaan t. Mamre.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article