Ek ontvang, soos seker maar die meeste van ons, op ’n daaglikse basis hordes selfoonboodskappe, oproepe en video’s wat wissel van uiters belangrik tot die wat ek sommer met die oopmaak verwyder. Veral die video’s, want dit neem net spasie op en ongelukkig is daar nie op my selfoon onbeperkte stoorruimte nie. Ek is egter baie bly ek het nie hierdie spesifieke video wat ek van ’n jare lange mansvriend ontvang het, verwyder nie.

Die einste videogreep het die storie van ’n bekende manlike Suid-Afrikaanse sanger in kort saamgevat. Die eerste twee minute daarvan het my aan die hart gegryp, want dit het die storie van soveel Suid-Afrikaanse mans verteenwoordig.

Hierdie sanger het met ’n stuk egte broosheid vertel hoe hy ook, soos baie ander mans, byna die slagoffer van samelewingsdruk geword het. Hoe die bewys-gedrewe ingesteldheid wat aan die meeste van ons so bekend is, hom ook tot die uiterste gedryf het. Dis mos wat waarskynlik van hom en ons as die sogenaamde “sterker geslag” verwag word. As mans mag ons mos nie kla nie. Moenie eens praat van huil nie. Dis taboe, want dan is jy ’n swakkeling. As jy darem as man ten minste nog kan praat oor dit wat nie wel is nie kon dit darem seker nog help, maar selfs die deel van manlike hartsgoed is skynbaar ook ’n geen-toegang-gebied.

Dis sy eerlike belydenis aan sy vrou dat alles nie wel is met hom nie wat uiteindelik die knoop vir homself deurgehak en die inwendige spanning verlig het. Die bekende manlike sanger wat derduisende Suid-Afrikaners bewonder en na opgekyk het, was nie wel nie. En die hartseer kant daarvan is dat niemand dit geweet het nie.

Die man het in stilte swaargekry. Hy vertel verder hoe hy in die pandemietyd familielede asook baie goeie vriende aan die dood afgestaan het. Party van hierdie familielede en vriende het hul lewe verloor aan pandemie-verwante oorsake en ander het die stryd verloor omdat hulle die impak wat die pandemie finansieel meegebring het nie meer kon hanteer nie. Die uiteindelike tragiese uitweg vir hulle was selfdood.

Ek wou meer te wete kom van hoe die selfdoodprentjie in ons eie land onder ons manlike geslag daar uitsien. Ek was en is geskok om die minste te sê. Suid-Afrika word wêreldwyd onder die top-tien lande vir selfdood onder mans gelys. Wat die prentjie nog meer hartseer maak, is dat die statistieke onder mans veel hoër is as by vroue. Dis eers as ’n mens die syfers of statistieke onder die oog het dat jy die vrae begin vra. Waaraan kan dit toegeskryf word? Wat is of was die bydraende faktore wat hierin ’n rol gespeel het?

Dit laat my sommer ook wonder of daar al ’n nagraadse studie oor hierdie verskynsel op eie bodem gedoen is, want die syfers en statistieke vra beslis dat daar ondersoekend met hierdie verskynsel van selfdood onder ons Suid-Afrikaanse mans gehandel moet word.

Waar ek myself bevind kan ek net bespiegel oor die veelkantigheid waarmee hierdie verskynsel hanteer moet word. Neem maar net ’n pa wat weens die pandemie by sy werksplek afgelê is.

Dalk was hy die enigste broodwinner en is hy ontneem van daardie rol. Of dalk die man wie se besigheid as gevolg van die pandemie of ander redes bankrot gespeel het. Om nie eens te praat van die uitdagings waar mans met hul seksualiteit gekonfronteer word nie.

In baie gevalle word die maklike uitweg gekies om ’n dubbele lewe te lei ter wille van watookal.

Voeg hierby dat die man se rol in gesinsverband baie kere gereduseer word tot broodwinner en hy verder nie emosioneel betrokke is by die gesin of sy huweliksmaat nie.

Natuurlik is daar ook die scenario’s waar die teendeel waar is. Hoe dit ook al sy, bly dit steeds skokkend dat soveel van ons mans uiteindelik die hartseer keuse van selfdood maak.

Die bekende sanger kon ’n uitlaatklep by sy vrou vind. Hy kon in sy geloof ’n veilige hawe vind en die noodsaaklikheid van uitreik na ander herontdek. My ope vraag is egter hoeveel van ons mans in Suid-Afrika enigsins van die verskeie opsies gebruik maak. Of ploeter ons maar net voort en kry emosioneel swaar, want ons voel skaam om die las wat druk met ander te deel.

Dalk omdat daar nie ’n gesonde ondersteuningsnetwerk van ander mans is nie. Of dalk is dit die onvermoë om dit wat swaar druk op die regte manier te kommunikeer, en die bekende opsie van dwelms of watter ander skadelike opsie beskikbaar is gekies word.

Het dit nie dalk tyd geword dat ons soos die bekende manlike sanger ook ons eie broosheid voor ander moet erken nie? En dat ons in ons brose staat van binne af kan gesond raak nie.

Ter wille van onsself en vir hulle wat ons liefhet en vir ons omgee. Soveel so dat selfdood nie meer ’n opsie word nie, want . . . “cowboy, you’re allowed to cry”.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article