’n Moordverdagte is die naweek in Saldanha in hegtenis geneem tydens die begrafnis van ’n skoolkind wat onlangs voor sy ouma se huis doodgeskiet is.

Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, is die 32-jarige verdagte nié in verband met die skoolkind, Heinrich Koras (17), se moord in hegtenis geneem nie, maar weens sy vermeende betrokkenheid by ’n ander onverwante poging-tot-moord-saak. Koras is op Sondag 25 Junie koelbloedig doodgeskiet.

Die verdagte het by die kerkdeur gestaan en tussen die begrafnisgangers ingehardloop toe hy die polisie gewaar, waarop hy agternagesit en in hegtenis geneem is. Die polisie was op soek na hom.

Helfrich het gesê dat die begrafnisgangers geskok en ontsteld was oor dié ontwrigting van die diens.

Majoor-Generaal Sizakhele William Dyantyi, waarnemende distrikskommissaris van die Weskus-polisiedistrik, het in antwoord hierop benadruk dat as mense hulle skuldig maak aan ’n misdryf, hulle die gevolge daarvan sal dra.

“Die polisie sal nie skroom om verdagtes op enige plek en enige tyd in hegtenis te neem nie, veral nie as hulle probeer wegkruip nie,” het Dyantyi gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article