’n Man wat perskes van Citrusdal na Kaapstad vervoer het, is eergister naby Moorreesburg gekaap.
Kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder, sê die 35-jarige man het Dinsdag (24 Oktober) na bewering vroeg die oggend – net ná middernag – op die N7 gery.
’n Wit Hyundai het hom naby Moorreesburg glo van die pad af gedwing en hy het stilgehou.
Twee mans het vuurwapens op hom gerig, waarop een van hulle saam met hom in sy voertuig geklim en hom beveel het om tot by Moorreesburg se ingang te ry.
Daar is die klaer weer beveel om stil te hou en nog twee kapers het by hulle in sy bakkie geklim.
Die klaer moes deur die dorp ry en is beveel om die weegbrug te vermy.
Die klaer het dit egter reggekry om tydens die rit by ’n stopstraat uit te spring en na die weegbrug te hardloop, waar ’n verkeersbeampte tot sy redding gekom het.
Die rowers, geklee in swart jasse en swart broeke, is vort met die klaer se voertuig, ’n Toyota Hilux-bakkie, R2 200 kontant en twee selfone.
Die voertuig is later in Dunoon, Kaapstad, teruggekry.
Die klaer is nie in die voorval beseer nie en die verdagtes is nog op vrye voet.

