’n Veroordeelde misdadiger is weer in Lambertsbaai in hegtenis geneem nadat hy Vrydagoggend (7 Julie) op die enjinkap van ’n polisievoertuig gespring en die voorruit met ’n pyp geslaan het. Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het gesê die 34-jarige Donovan Heunis het die voertuig om 03:40 begin toetakel. Die polisiebeamptes van die Lambertsbaai-polisie het hom probeer keer, waarop hy ’n mes uitgehaal en gedreig het om hulle daarmee te steek. Hy wou nie toelaat dat hulle hom in hegtenis neem nie en hy moes met ’n stoeiery in bedwang gebring word. Hy is in hegtenis geneem op aanklagte van opsetlike saakbeskadiging, aanranding, die besit van ’n gevaarlike wapen en verset teen inhegtenisneming. Heunis, wat reeds ’n misdaadrekord het, het dieselfde dag in die landdroshof in Clanwilliam verskyn.
Die Vredenburg-polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord nadat ’n 43-jarige man Sondag (9 Julie) met ’n mes in die bors gesteek is. Sy 32-jarige aanvaller is in hegtenis geneem en het Dinsdag (11 Julie) in die Vredenburg-landdroshof verskyn.
’n Brand het Maandagaand (10 Julie) by die Superspar in Vredendal uitgebreek. Die brandweer het die vlamme, wat vermoedelik deur ’n kortsluiting ontstaan het nadat beurtkrag herstel is, geblus. Die helfte van die winkel het afgebrand.
Die Langebaan-gemeenskapspolisiëringsforum se jaarvergadering word Woensdag 19 Julie om 18:00 by die Thusong-sentrum gehou. Alle inwoners is welkom. Tree met Miranda Matthews in verbinding by 074 238 2346 indien enige nadere besonderhede verlang word.


