Links is nooddienspersoneel besig om ’n passasier wat kritiek beseer is te help. Hy is intussen oorlede. Regs staan die wrak van die Opel Astra met nog beseerdes.Foto’s: Alida Buckle


Een man is dood en drie beseer in ’n ongeluk op die Vredenburg-Velddrifpad (R399) waarin ’n Opel Astra ’n paar keer in die lug getol en in ’n landery tot stilstand gekom het.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, was geen ander voertuie by die ongeluk omstreeks 11:45 op Maandag 3 Februarie betrokke nie.

Die brandweer- en verkeersdienste van die Saldanhabaai-munisipaliteit was saam met die Vredenburg-polisie vinnig op die toneel wat besaai was met vol én leë drankbottels.

Een van die passasiers is meters ver uit die agterruit geslinger. Noodpersoneel van West Coast Medical Rescue het hom op die toneel behandel en in ’n kritieke toestand per ambulans na die Vredenburg- provinsiale hospitaal geneem, waar hy dood is. Die identiteit van dié man was teen druktyd nog nie bekend nie.

Die ander drie mans, insluitend die 28-jarige bestuurder, woon in Laaiplek. Hulle is ook na die hospitaal vervoer met matige beserings. Hulle is dieselfde dag nog ontslaan.

Die ongeluk het voor twee Velddriwwers, Louis Bosman van ’n sonkragonderneming en die tandarts Etienne Raubenheimer gebeur.

Hulle het gesien hoe die bestuurder van die Opel Astra ’n bakkie probeer verbysteek toe hy beheer oor die voertuig verloor het.

Die swart remmerke was ná die ongeluk nog duidelik op die teerpad sigbaar.

Bosman en Raubenheimer het dadelik by die ongelukstoneel uitgespring en na die insittendes gehardloop om te kyk of hy hulle kan help.

Met die aankoms van die polisie is die ongelukstoneel as ’n misdaadtoneel geklassifiseer en ’n saak van strafbare manslag is geopen.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article