’n Man (59) se lyk is in die vroeë oggendure van Maandag 28 Maart tussen die oorblyfsels van ’n afgebrande wendyhuis by ’n huis in Kameeldoringstraat, Vredenburg, gevind.
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van Vredenburg-polisie, het ’n brand vermoedelik in die wendyhuis ontstaan terwyl die eienaar van die woonhuis daarin was. Die wendyhuis is glo deur die eienaar as ’n stoorplek gebruik.
Helfrich sê die oorledene se vrou (58) is sowat vier maande gelede op 6 Desember weens verskeie kopbeserings dood. ’n Geregtelike doodsondersoek is ná haar dood geopen. Helfrich is egter nie tans by magte om oor die omstandighede rakende die vrou se dood uit te brei nie.
’n Geregtelike doodsondersoek is ook Maandag met betrekking tot die man se dood geopen en talle vraagtekens hang oor die tragiese voorval.
Na aanleiding van vertroulike inligting wat Weslander ontvang het oor die moontlike oorsaak van die brand, kon Helfrich ook nie kommentaar lewer nie.
“Ons is nog besig om die saak te ondersoek en wil nie voortydig kommentaar lewer nie aangesien ons die familielede van die egpaar respekteer en nie vir die familie verdere trauma wil veroorsaak nie,” het Helfrich gesê.




