Hy het na bewering sy meisie vermoor en daarna vermoedelik sy eie lewe geneem.
Die polisie is op soek na die naasbestaandes van Tsebo Alfred Letsie (26) wat op 9 Desember verlede jaar op die R27 (Weskuspad) naby die Weskus Nasionale Park in ’n botsing gesterf het.
Volgens sers. Johnatan Filander, die woordvoerder van Darling-polisie, het Letsie, wat ’n maroen BMW X3 bestuur het, om 02:46 teen ’n Albany-broodafleweringswa gebots. Hy is op die toneel dood.
Filander het gesê Letsie het glo sy welgestelde meisie in Parklands vermoor omdat sy die volgende dag na China sou verhuis waar sy haar eie fabriek sou bestuur.
Hierdie inligting is deur die vermoorde vrou se dogter aan die polisie bevestig.
Ná die botsing op die R27 het die polisie bepaal dat die BMW aan ’n vrou van Parklands genaamd Pumeza Toyo (48) behoort.
Table View se polisie is gevra om die adres te gaan besoek en die eienaar van die voertuig te ondervra.
Vroeg die oggend het polisiebeamptes na die adres in Parklands gegaan en die familielid wat die deur oopgemaak het gevra om die eienaar van die motor te gaan roep. Tot almal in die huis se groot skok het Toyo dood in haar bed gelê.
Sy is verwurg en is verskeie kere met ’n skerp voorwerp gesteek.
Haar seun het aan die polisie gesê vreemde geluide in die huis het hom in die nag wakker gemaak. Hy het opgestaan om te gaan ondersoek instel, maar Letsie het vir hom gesê alles is in orde en hy kan maar weer gaan slaap.
Kort daarna het die seun gesien hoe Letsie met sy ma se BMW van die huis af wegry.
Daar word sterk vermoed Letsie het ná die moord sy eie lewe geneem deur met opset teen die afleweringswa vas te ry.
Letsie se liggaam is steeds in Malmesbury se lykshuis en die polisie probeer al sedert die noodlottige botsing om die oorledene se familie op te spoor.
Filander het verduidelik hulle kon Letsie se rekord tot in Kimberly naspoor waar hy laas by Hoofstraat 102, Herlear, gewoon het.
Enigeen wat inligting het oor waar Letsie se naasbestaandes hulself bevind, word vriendelik versoek om die ondersoekbeampte, AO Alwiso Adams van die Darling-polisiekantoor, by 022 409 1304 te bel.





