Toe die eerste mes breek weens die geweld waarmee hy sy slagoffer steek, het hy ’n groter mes gegryp en haar gesteek totdat dié mes ook gebreek het.
Volgens Eric Ntabazalila, Wes-Kaapse woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Esethu Cawe (26) dié mes in sy meisie, Relebohile Ncephe, se lewelose liggaam gelos. Dit is eers tydens die lykskouing uitgehaal.
Die Clanwilliam-streekhof het Cawe lewenslange tronkstraf opgelê en hom onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit nadat hy Ncephe op 22 Augustus 2022 19 keer voor haar vierjarige dogter in ’n huis in Govan Mbekistraat gesteek het.
Ntabazalila sê Cawe is ook skuldig bevind aan die oortreding van ’n beskermingsbevel wat op 26 Julie 2022 uitgereik is. Dit het hom verbied om Ncephe aan te rand, te dreig, verbaal te misbruik of om haar huis in Khayelitsha, Clanwilliam, binne te gaan, haar eiendom sonder haar toestemming te neem of haar eiendom te beskadig.
Die hof het hom vier jaar direkte tronkstraf opgelê vir die oortreding van die beskermingsbevel en lewenslange tronkstraf vir moord. Die vonnisse moet gelyklopend uitgedien word.
Hierdie vonnis volg op die staat se verwerping van ’n pleit- en vonnisooreenkoms met ’n voorgestelde vonnis van 18 jaar van die beskuldigde en sy regspan. Die staat het die aanbod van die hand gewys op grond van die erns van die saak en die langtermyn traumatiserende impak daarvan op die kind.
Die staat het aangevoer die dood was ’n gevolg van uiterste geweld en fisieke mishandeling van die oorledene wat in ’n gesinsverhouding met Cawe was.
Mark Taylor, streekhofaanklaer, het aan die hof gesê die egpaar was saamwoonmaats in ’n intieme verhouding. Toe gesinsgeweld begin voorkom, het die oorledene na haar suster se huis getrek en ’n tussentydse beskermingsbevel verkry wat aan die beskuldigde beteken is.
Op die dag van die voorval het Cawe haar herhaaldelik gebel waarna sy ingestem het om hom in die teenwoordigheid van haar suster te ontmoet. Haar vierjarige dogtertjie het haar vergesel. Hulle het begin praat en die suster het vertrek om hulle ruimte te gee om privaat te praat.
Tydens die gesprek het die beskuldigde die oorledene oor die vorige naweek uitgevra en kwaad geword toe hy nie die antwoorde gekry het wat hy wou hê nie. Hy het haar hierop herhaaldelik gesteek waarop die kind gillend na buite gehardloop het.
In sy pleidooi het Cawe erken dat die beskermingsbevel steeds in werking was toe hy die oorledene se verblyfplek betree en haar vermoor het.
Taylor het ter verswaring van vonnis betoog en gesê moord is ’n plaag in die Clanwilliam- en Cederberg-samelewing. Hy het gesê respek vir die strafregstelsel moet gehandhaaf word en die howe kan dit verseker deur gepaste vonnisse op te lê wanneer dit vereis word.
“Die skuldigbevindings het betrekking op koelbloedige, gevoellose en gruwelike optrede aan die kant van die beskuldigde. Dit het ’n absolute flagrante minagting van die heiligheid van menselewe en volkome disrespek vir die reg en hierdie hof getoon. Sy optrede het ’n moedswillige verontagsaming van die slagoffer en ’n doelgerigte voorneme van sy kant behels om die misdade te pleeg. Die gevolgtrekking word versterk deur die feit dat hy die oorledene op ’n boosaardige, brutale en onverbiddelike wyse gepak het.”
Die messtekery het gebeur vier dae nadat ’n beskermingsbevel teen Cawe verleng is en op 8 September 2022 bevestig sou word. Taylor het aangevoer wanneer hofbevele oortree word, daar gevolge moet wees wat daartoe sal lei dat gemeenskappe nie vertroue in die strafregstelsel verloor nie.


