’n Man (43) se roekelose bestuurstyl Vrydagaand 9 September op die R27 (Weskuspad) het veroorsaak dat die polisie hom voorgekeer en van die pad laat aftrek het.
Kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, het aan Weslander vertel die Weskus se landelike blitspatrollie het die voertuig deursoek en altesaam 129 bondels onwettige Khat-plante daarin ontdek.
Khat is ’n opkikkermiddel, wat die boodskappe tussen die brein en die liggaam versnel.
Die knoppe en blare van die khat-plant (Catha edulis) word gekou om ’n stimulerende en euforiese effek te verkry. Dit is tradisioneel vir medisinale doeleindes sowel as vir ontspanningsdoeleindes gebruik.
Die plant staan in die volksmond ook as Boesmanstee bekend. Die naam “khat” het ’n Arabiese oorsprong.
Die plant word meesal verspreid in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap, maar ook in die Wes-Kaap, Mpumalanga, Swaziland, Mosambiek en die Arabiese lande, aangetref.




