’n Man wat vir ’n broodafleweraar werk, is in sy regterarm geskiet tydens ’n rooftog by ’n winkeltjie in George Kerridge in Vredenburg. Hy en ’n kollega het hier brood afgelewer.
Die Vredenburg-polisie ondersoek klagtes van poging tot moord en sakeroof ná die voorval, het kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, gesê.
Die slagoffer se kollega het Maandag 11 September omstreeks 05:50 by ’n klein winkel in Susulustraat, George Kerridge, stilgehou. Die kollega het uitgeklim om die brood die winkel in te neem.
Die slagoffer het twee verdagte mans naby die winkel sien staan. Hy het uit die voertuig geklim, maar vinnig weer teruggeklim toe hy opmerk dat die een man ’n vuurwapen by hom het.
Hierop het die man skote op hom afgevuur en een skoot het hom in die regterarm getref. Sy kollega het met die klap van die skote die hasepad gekies.
Die beseerde man kon daarin geslaag om self tot by die polisiekantoor in Hoofstraat, Vredenburg, te bestuur, waar hy die voorval aangemeld het.
Die mans wat daar was om die winkel te beroof, het intussen die winkeleienaar met ’n vuurwapen gedreig en ’n televisie, sigarette en R4 000 by hom geroof.
Hulle het te voet van die toneel af gevlug.
Geen verdagtes is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.


