Frans Daniels het heelnag op die rand van ’n gevaarlike krans vasgesit.
Sy verligte gesin het hom die volgende dag egter genadiglik teruggekry nadat ’n soekgeselskap vasbeslote aan die werk gespring het om hom te vind en vir die Kerstyd huis toe te bring.
Frans en sy gesin is van die plaas Baanbreek in die Porterville-berggebied.
Sy gesin het teen laat Vrydagmiddag 16 Desember besef Frans (62) het nog nie huis toe gekom nie. Die weer het skielik gedraai en ’n digte miswolk het oor Porterville se berg gelê.
“Mense wat Porterville se berg ken, weet dat die gemeenskap daar baie vir mekaar omgee,” het AO Karel von Waltsleben van die Porterville-polisie gesê.
Inwoners het dadelik na Frans begin soek, maar kon hom nie opspoor nie. Dit het donker geword en die Porterville-polisie se hulp is om middernag ingeroep om die soektog voort te sit en om Frans amptelik as vermis aan te meld.
Met die polisie se aankoms het AO Von Waltsleben en ’n plaaswaglid, Apolis Doman, dadelik begin soek. Teen 04:00 het die weer baie versleg en is die soektog vir eers gestaak.
Die soektog is met dagbreek voortgesit en Von Waltsleben het bystand ontbied.
’n Hommeltuig is gebruik om die damgebied te fynkam.
Natuurbewaringspersoneel en ’n groep gemeenskapslede het ook gehelp soek.
Dit was al ná 14:00 en almal was moeg en honger toe ’n telefoonoproep uiteindelik goeie nuus bring – Frans is opgespoor!
Almal het hulle na die toneel gehaas, min wetend dat die reddingspoging eintlik toe eers sou begin.
Frans het hom op die rand van ’n steil kloof bevind en kon nie op of af nie.
Ron Ruiters, Ralph Titus, Raphael Titus en Ettiene Hendriks het met groot inspanning daarin geslaag om Frans uiteindelik na veiligheid te bring. Hy was ongedeerd en in ’n goeie gees, en net moeg en ontwater na afloop van sy nagmerrie-ervaring.
“Die feit dat hulle dit reggekry het om hom te red, is ’n wonderwerk. Ruiters (wat na Frans help soek het) het gesê: ‘Ek het die Here vir hulp gevra en Hy het my gehelp’,” het Von Waltsleben vertel.
Frans het die nodige mediese behandeling deur medici op die toneel ontvang en is met die Rooikruis-hospitaal se helikopter huis toe geneem, waar hy met ope arms en groot glimlagte deur sy familie verwelkom is.





