Die staat het Maandag 16 Oktober in die Vredenburg-landdroshofbesluit om die aanklag van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie teen die 25-jarige Cameron Kleinhans van Louwville te laat vaar. Sy is Saterdag 14 Oktober by ’n huis in Fred Louwstraat, Louwville, saam met haar kêrel, Q-Gwaahn White (25), in hegtenis geneem. Twee pistole is in ’n buurman se erf gegooi met die polisie se aankoms by die huis en ’n groot hoeveelheid ammunisie is onder ’n kas gekry. Die saak teen White gaan voort.
. ’n Man (39) en sy 12-jarige seun van Vredenburg het ter nouer nood aan die dood ontkom nadat Euwan Bester van Paternoster na bewering Maandag 16 Oktober petrol oor hulle uitgegooi het, maar die aansteker nie wou vlamvat nie. Die mans beweer dat Bester hulle al van 9 Oktober vanjaar af treiter. Hy het glo ook die klaer met ’n skêr probeer bydam. Bester het Vrydag 20 Oktober in die Vredenburg-landdroshof op twee aanklagte van poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer verskyn.
. Andersoen Sidumo (63) het Maandag in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklagte van dronkbestuur en omkopery nadat hy Saterdagaand 21 Oktober glo probeer het om ’n verkeersbeampte om te koop.
Sidumo is tydens ’n roetinepatrollie voorgekeer, maar voordat die beampte die rede kon gee waarom sy voertuig afgetrek is, het die beskuldigde twee R100-note uitgehaal en dit aan die beampte voorgehou. Die beampte het boonop ook agtergekom dat Sidumo dronk is.
. Die lewelose liggaam van ’n onbekende man is Sondagoggend 22 Oktober omstreeks 00:30 in die middel van die pad op die R45 tussen Paarl en Malmesbury gekry. Die oorledene is deur ’n voertuig gestamp, waarna die motoris van die toneel af weggery het. Enigiemand wat inligting oor die tref-en-trap-ongeluk het, kan met kapt. Jood Tieties by 082 559 4648 in verbinding tree.
. ’n Elfjarige seun het Saterdag 21 Oktober in ’n rivier by Vanrhynsdorp verdrink. Hy en ’n maat het in ’n kano gevaar toe die oorledene in die water gespring en verdrink het.
. Anam Mbobo (35) het homself vroeg Saterdagoggend (21 Oktober) aan die Piketberg-polisie kom oorgee saam met die okapimes waarmee hy Rimaketoi Semina (38), wat saam met hom op die plaas Platkloof gewerk het, doodgesteek het. Met die polisie se aankoms op die toneel was ’n gedeelte van die toneel reeds skoongemaak. Mbobo, wat ook beseer is in die rusie met die oorledene, het Maandag in die landdroshof verskyn.
. ’n Stryery tussen twee mans het Sondag (22 Oktober) tot Reemon Franklin Booise (21) se dood in Malmesbury gelei. Booise het in die Swartland-hospitaal gesterf. Jahiem Beukes (19) het Dinsdag (24 Oktober) in verband met die moord in die landdroshof verskyn. Beukes en nog drie verdagtes het ook vandag in dié hof op aanklag van opsetlike saakbeskadiging, wat in Mei 2023 teen hulle aanhangig gemaak is, verskyn.
. ’n 27-jarige vrou het vroeër vandeesmaand, op 14 Oktober, ’n klagte van aanranding teen Beukes aangemeld nadat hy haar na bewering in die gesig gespoeg en haar daarmee gedreig het dat haar huis “gemerk” is.
. Die Citrusdal-polisie is op soek na ’n Lesotho-burger wat David Mpheteng Sondagoggend (22 Oktober) om 03:15 in ’n stryery met ’n mes doodgesteek het. Mpheteng se ma het die polisie voorgekeer en oor die voorval ingelig, waarna die oorledene se liggaam in Riverview gekry is.
. Die Laaiplek-polisie in Velddrif ondersoek ’n klagte van poging tot moord en aanranding nadat twee mans Sondag (22 Oktober) omstreeks 12:00 in Bokkomlaan amok gemaak het. ’n Vrou (45) was besig om vis skoon te maak toe die twee haar met ’n wit Toyota Fortuner tot teenaan die muur gestamp het. ’n Man van 60 jaar oud, wat dit sien gebeur het, het die mans gevra om die voertuig te skuif, waarop hy met ’n gebreekte bierbottel gedreig is. Beide die man en vrou is gedreig en gevloek. Die verdagtes is aan die polisie bekend.




