’n Video waarin ’n gerespekteerde verkeersbeampte van die Weskus ’n neerhalende woord toegesnou word, het vandeesweek vinnig op sosiale media versprei.
Die onderonsie volg op ’n ongeluk die afgelope Saterdagmiddag (26 Oktober) tussen ’n motorfiets en ’n motorvoertuig naby die T-aansluiting van die pad van Tronox by die Saldanha-Langebaanpad (MR559).
Die motorfietsryer het ná die ongeluk ’n 46-jarige man van Saldanha gevra om die beskadigde motorfiets te kom oplaai.
Volgens kapt. Tania Helfrich, Weskus-polisiewoordvoerder, het verkeersbeamptes wat nog op die toneel was, opgemerk dat dié man na bewering dronk was.
Die verkeersbeamptes het hom gewaarsku dat hy nie in staat is om te bestuur nie, maar hy het in sy bakkie geklim en wou wegry. Hulle het hom egter voorgekeer en polisiebeamptes op die toneel het hom na ’n polisievoertuig ondersteun.
Tydens die inhegtenisneming het die man se 49-jarige vriendin tussenbeide getree.
Die betrokke verkeersbeampte het gesê die man kan hom nie ’n [ras-aanstootlike woord] noem nie, waarop die vrou gesê het dat die beampte wel ’n [ras-aanstootlike woord] is.
Die vrou het ook volgens Helfrich die verkeersbeampte in die polisiekantoor rondgestamp omdat hy vir haar ’n boete wou uitreik.
Sy is uiteindelik op ’n aanklag van crimen injuria in hegtenis geneem.
Die man en vrou het nog nie in die Vredenburg-landdroshof op aanklag van crimen injuria – om onwettig, opsetlik en ernstig die waardigheid van ’n ander aan te tas – verskyn nie.
Helfrich het gesê die crimen injuria-saak sal by die dronkbestuursaak gevoeg word sodra die verslag oor die man se bloedalkoholvlakke beskikbaar is, wat maande kan duur.
Die hof sal op daardie tydstip die man en vrou dagvaar om in die hof te verskyn.




