’n Man (35) en baba is dood ná ’n botsing tussen twee voertuie Donderdagaand (6 Oktober) op die R27 by die Yzerfontein-afdraai.

Volgens Des Paton, streeksdirekteur van die provinsiale verkeersdiens vir die Weskus en die Kaapse Metro, het twee voertuie, ’n blou Volkswagen Polo en ’n wit Isuzu-bakkie, gebots toe die Polo die oorgang by Yzerfontein oorgesteek en na bewering voor die bakkie ingery het.

Paton het bevestig die man en die baba in die Polo het in die botsing gesterf en die vrou (ook in die Polo) is in ’n kritieke toestand per ambulans na ’n hospitaal geneem.

Die amptelike tyd van die ongeluk wat op die botsingsverslag aangeteken is, is 21:00.

Sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van die Darling-polisie wat op die toneel van die botsing was, sê die oorlede man en babadogter, asook die erg beseerde vrou, was ’n gesin wat saam in die Polo gereis het.

“Dit was ’n hartseer gesig om te aanskou,” het Filander gesê.

“Ons het tans min inligting oor die gesin, maar ons weet wel die man het vir die departement van maatskaplike ontwikkeling in Kaapstad gewerk.”

Die insittendes van die bakkie – twee mans – is beide hospitaal toe geneem, maar is volgens Filander “buite gevaar”.

Die Darling-polisie ondersoek ’n klag van strafbare manslag.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article