Die lyk van ’n 36-jarige man van Paternoster is Vrydagmiddag op rotse by die Militêre Akademie se terrein gekry waar hy vermoedelik verkluim het nadat hy uit die see geswem het.
Mertino Andrew en ’n vriend was volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, in ’n klein vissersbootjie, wat hulle by Trekoskraal, tussen Paternoster en Vredenburg, te water gelaat het.
Die bootjie het in onstuimige seetoestande omgedop en die twee mans het in die see beland. Die vriend is deur ’n ander vaartuig opgepik en gered, maar Andrew moes die water trotseer.
Hy het uiteindelik geswem tot waar hy op rotse naby die North Head-vuurtoring aan die noordekant van die ingang na Saldanhabaai uitgeklim het. Sy lewelose liggaam is daar gekry.
Volgens Helfrich sal die lykskouing bepaal presies waaraan hy dood is, maar dit lyk asof hy dalk verkluim het, eerder as om van verdrinking om te kom, soos aanvanklik gedink is.
Nadat sy vriend opgepik is, is die owerhede laat weet dat Andrew vermis word. Reddingspersoneel van West Coast Medical Rescue, die seereddingsinstituut en Metro EMS Rescue het gereageer en saam op land en in die see na Andrew help soek.
Hulle het laatmiddag op sy lewelose liggaam op die rotse in die Militêre Akademie afgekom.
Mense wat op klein bootjies op die see uitgaan, word veral aangeraai om die NSRI SafeTRX- mobiele toepassing te gebruik.. ’n Gedenkdiens vir Andrew word vanaand (Donderdag 29 Junie) om 19:00 by die Paternoster-gemeenskapsaal gehou.
Sy begrafnis sal Sondag 2 Julie plaasvind.
Weslander het na sy familie uitgereik, maar hulle wou nie hieroor praat nie.





