’n Man van Darling is doodgeskiet terwyl hy en nog drie mans gesit en kaart speel het.

Volgens sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van die Darling-polisie, het dié moord op Woensdag 8 Maart skuins ná middernag in ’n opslaanvertrek agter ’n huis in Madeliefiestraat, Darling, plaasgevind.

Filander sê skote is van buite op die opslaanvertrek, waarin die vier mans saamgekuier het, geskiet.

Een van die mans in die vertrek, Mario Magerman (31), is in die kop, nek en rug getref en het aan sy wonde beswyk. Die ander slagoffer (26) is in die bors geskiet. Hy het egter die dood vrygespring. Nog twee mense wat in die vertrek was, is ongedeerd.

Volgens Filander word die motief vir die moord nog ondersoek.

Drie mans, onderskeidelik 34, 37 en 30 jaar oud, is weens die voorval in hegtenis geneem. Sake van moord en poging tot moord word ondersoek.

Die 37-jarige verdagte was ten tyde van Magerman se moord uit op borgtog vir ’n ander Darling-moord, wat op 31 Desember 2019 gepleeg is. Hy is ook by ’n vorige geleentheid daarvan aangekla dat hy ’n vuurwapen onwettig gerig en iemand daarmee gedreig het.

Al drie verdagtes het Vrydag (10 Maart) in die Malmesbury-landdroshof verskyn en sal Vrydag 17 Maart om borgtog aansoek doen. . Enigeen met inligting wat die ondersoek kan bespoedig, word versoek om AO Collison-Adams by 022 409 1300 te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article